KZN-liga: Rovers, Collegians in `eindstryd’

South Coast Warriors (blou) en Newcastle Highlanders (rooi) spook om besit van die bal. (Foto: MG Röscher)

South Coast Warriors (blou) en Newcastle Highlanders (rooi) spook om besit van die bal. (Foto: MG Röscher)

Saterdag se wedstryd in die KwaZulu-Natalse Premierliga tussen College Rovers en Durban Collegians is in wese `n eindstryd omdat die wenner as die bond se Moorbeker-kampioen gekroon sal word.

Rovers is onoorwonne in sewe wedstryde en het 33 ligapunte teenoor die 31 van Collegians, wat `n slag verloor het. Laasgenoemde moet dus wen om sy kroon te behou.

In die enigste wedstryd in die Top5 van die liga het Collegians Saterdag oortuigend 39-3 teen Amanzimtoti gewen.

In die Onderste 5 het South Coast Warriors vir Newcastle Highlanders 31-10 geklop (rustyd 19-7).

Christo Henderson, South Coast Warriors se hoofafrigter, sê die span het by sy wedstrydplan gehou, sy verdediging was uitmuntend, en die bank se trefkrag `n seën.

“Ons skrumwerk was van die boonste rak en ons het elke keer groot druk op Newcastle geplaas, sodat ons meer besit en veld kon wen.

“Ons agterlyn was skitterend en het twee puik drieë van eersteklas bewegings af gedruk. Dit was in die geheel `n grootse spanpoging.”

Henderson sonder die haker Jacques Coetzee as die voorspeler van die wedstryd uit.

“Hy het geskitter met sy terugkeer ná `n ribbesering, sy lynstaaningooie was in die kol, hy het `n briljante individuele drie gedruk, en een van sy beste vertonings van die seisoen gelewer.

“In die agterlyn het die regtervleuel, Ra-Iq Ploker, met sy verdediging uitgemunt en Highlanders se naelduiwel Ferrari Hadebe in bedwang gehou. Hy het kort ná rustyd losskakel gaan speel, waar hy die agterlyn glad weggestuur en vir opwindende spel gesorg het.”

Theo Nichols (buitesenter), Arnold Kruger (linkervleuel), Jean van den Berg (agsteman), Coetzee en Lourens Stapelberg (vaskopstut) het Warriors se drieë gedruk en Tienie Viljoen (binnesenter)  het drie verdoel.

Die Warriors speel Saterdag tuis op die Douglas Mitchell-sportterrein op Uvongo teen Crusaders.

Boschpick Newcastle Highlanders was binne die eerste vyf minute 0-7 agter en toe die beseringsgeteisterde span boonop sy kaptein en binnesenter, Gift Mabaso, vroeg in die wedstryd verloor, het dit gelyk of `n lang middag voor lê, laat weet die klub se hoofafrigter André Swanepoel.

“Mabaso se besering het `n skommeling in die agterlyn genoodsaak sodat slegs die twee voorrymanne van die gereelde eerstespanspelers oor was.

“Die onervare ouens het teruggeveg en `n mooi drie gedruk om die telling 7-7 te maak, maar daarna het die Warriors voor gebly.

“Die Highlanders het die telling lank op 19-10 vasgepen. Die Warriors het egter op die ou end nog twee keer gaan druk.”

Swanepoel sê voorlangs het veral DJ Siwela en Lindani Myeni (agsteman) hoe later hoe kwater uitgeblink en die Warriors met hul lopies en lynbreke laat skarrel.

“Die 19-jarige Siyan Manqele (flank) het `n bevredigende buiging gemaak. In die agterlyn het het Musa Shabalala (regtervleuel), wat vroeg senter toe moes skuif, `n baie goeie vertoning gelewer. Ook Ferrari Hadebe (linkervleuel) het gewys dat hy geen span in die liga in die steek sal laat nie.

Alex Boose (losskakel) was met `n doel en strafdoel verantwoordelik vir al tien Newcastle se punte.

Highlanders II het sy wedstryd 31-20 gewen – en wat dit des te merkwaardiger gemaak het, was dat die span 27 keer deur die plaaslike skeidsregter gestraf is en `n geel kaart gekry het, maar self net vier strafdoele gekry het.

Die span was in `n stadium 24-3 voor, het kop gehou, sy sesde wedstryd gewen en is tweede op die punteleer.

Langa Shabalala (losskakel) en Zipho Phakati (regtervleuel) het agterlangs die oog gevang, en voor het Mlu Phakahti (flank) baie goed gevaar.

Brandon (Bunny) Waugh, met die bal, was Hillcrest se speler van die wedstryd teen Richardsbaai. (Foto: Kerrith Howes)

Brandon (Bunny) Waugh, met die bal, was Hillcrest se speler van die wedstryd teen Richardsbaai. (Foto: Kerrith Howes)

Eerste Liga (Suid)

`n Verbete Land Rover Durban Hillcrest Villagers het Saterdag by die Durban Shongweni-klub verras deur die wenner van die Eerste Liga (Suid), Richardsbaai, 22-15 te klop.

Mike de Kock, `n woordvoerder van Villagers, sê die wedstryd het bra gespanne begin met albei spanne wat foute wou vermy en besit behou.

“Richardsbaai het eerste bloed geruik met `n strafdoel die eerste keer wat hulle in Villagers se 22-gebied kon kom, maar die tuisspan het teruggeslaan met `n drie deur Alex Klewinghaus ná talle opeenvolgende fases.

“Die besoekers het besit in die middel van die eerste helfte oorheers en uiteindelik die volgehoue druk in `n onverdoelde drie omskep om rustyd 8-7 voor te loop.”

De Kock sê `n aangevuurde Villagers het ná die hervatting `n paar drieë ingeryg en was binne tien minute 22-8 voor.

“Richardsbaai het sterk teruggeveg en `n doel behaal, wat vir `n uiters spannende einde gesorg het. Villagers se kenmerkende stewige verdediging het egter end-uit gehou.”

Dit was op die ou end bonuspunte wat Richardsbaai die liga laat wen het. Hy het twee van sy 12 wedstryde verloor, waar Hillcrest net een verloor en een gelykop gespeel het.

Brian (Cappy) Lewis se reuseleierskap het hom die toekenning as voorspeler van die wedstryd besorg, en Brandon (Bunny) Waugh was die agterspeler van die wedstryd.

Behalwe Klewinghaus het Brian Lewis, Cian Waugh en Andries Botha die wenspan se drieë gedruk.

Hillcrest se tweede span het Richardsbaai 45-19 verslaan om tweede in sy liga te kom.

De Kock sê die wedstryd het in `n vinnige pas weggespring en Villagers het gou `n paar drieë gedruk om die wind uit hul teenstanders se seile te haal.

“Die voordeel van `n opportunistiese drie vir die Baai, halfpad deur die eerste helfte, is onmiddellik uitgewis toe Hillcrest se losskakel, Cliffy Bridge, op eie houtjie `n briljante drie sommer van die afskop af gaan druk het.”

Die tuisspan was rustyd reeds 33-10 voor.

De Kock sê namate die dorre hitte sy tol geeis het, het die tweede helfte in `n getjommel ontaard en kon elke span slegs een drie druk.

“Die pronkstuk was `n langafstanddrie waartoe Bridge en Cian Waugh die vernaamste bydrae gelewer het.”

Die uitblinkers en spelers van die wedstryd was Cian Waugh (agter) en Dwayne Frenzel (voor) – `n grootse dag vir die Waugh-broers.

De Kock sê Hillcrest Villagers fokus nou op die verdediging van die Junior Murraybeker, wat hy verlede jaar gewen het.

Ander uitslae –

Premierliga-Top5 Reserwes

Collegians 23, Toti 15.

Premierliga Onderste 5

Jaguars 26, Zululand Rhinos 21.

Premierliga Onderste 5 Reserwes

Jaguars 19, Zululand Rhinos 12.

Eerste Liga (Suid)

Westville Old Boys 48, Harlequins 19; Ballito Dolphins 71, UKZN Durban 0; Pietermaritzburg Collegians 33, Durban Mets 19.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Quins 19, WOB 17; Ballito kry punte van UKZN Durban; Pietermaritzburg Collegians 33, Durban Mets 12.

Durban-subunie Derde Liga

College Rovers 43, Kwantu Spears 18; Durban Collegians 103, Amabibeshi 0.

Opgesomde punteleer –

Premierliga-Top5  (Moorbeker)

Rovers 33, Collegians 31, Amanzimtoti 15, UKZN Impi 8, Varsity College 2.

Premierliga Onderste 5

Jaguars 29, Crusaders 26, South Coast Warriors 19, Zululand Rhinos 18, Newcastle Highlanders 6.

Premierliga-Top5 Reserwes (Wyliebeker)

Collegians 33, Rovers 29, Toti 16, Varsity College 11, UKZN Impi 0.

Premierliga Onderste 5 Reserwes

Crusaders 31, Newcastle 25, Jaguars 14, Zululand Rhinos 13, South Coast Warriors 7.

Eerste Liga (Suid)

Richardsbaai 60, Hillcrest 58, WOB 50, Pietermaritzburg Collegians 38, Ballito Dolphins 37, Quins 23, UKZN Durban 16, Durban Mets 4.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

WOB 59, Hillcrest 54, Richardsbaai 49, Quins 40, Pietermaritzburg Collegians 28, UKZN Durban 26, Ballito 21, Durban Mets 4.

Durban-subunie (DRSU) Derde Liga (Walkerbeker)

Collegians 49, Queensburgh 38, Crusaders 28, Rovers 21, Pinetown 21, Kwantu 10, Amabubeshi 1.

DRSU Vierde Liga (Foadenbeker)

Toti 33, Varsity College 29, Mangosuthu-universiteit 23, Hillcrest 15, Ogwini Bafana 1.

DRSU Vyfde Liga (CF Glewbeker)

Clermont 44, Scottburgh 40, Reservoir Hills 22, Queensburgh 20, Seskhona 6, Jaguars Berea Tech 6.

O.20A-liga (Frank Norrisbeker)

Collegians 35, Rovers 20, Varsity College 19, Crusaders 10, UKZN Durban 5, SCW 1.

O.20B-liga (Kingspark-uitdaagbeker)

Collegians 30, Varsity College 25, Quins 17, Rovers 15, Zululand 5, Newcastle 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.