KZN-liga: Rovers, Toti aan die wenkant

Sheldon Phillips maak seker Hillcrest Villagers behou besit. (Foto: Kerrith Howes)

Sheldon Phillips maak seker Hillcrest Villagers behou besit. (Foto: Kerrith Howes)

College Rovers en Amanzimtoti was Saterdag aan die wenkant in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga-Top5 om die Moorbeker.

Rovers het Varsity College 57-22 getroef; en Toti was 25-10 baas teen UKZN Impi.

In die Premierliga se Onderste 5 het Jaguars (Sydenham) 48-15 met Crusaders (Northwood) afgereken; en Zululand Rhinos het 67-27 met Newcastle Highlanders klaargespeel.

Eerste Liga (Suid)

In die eerste Liga (Suid) het Land Rover Durban-Hillcrest Villagers weg van sy tuiste af 56-22 teen Durban Mets gewen. Die tweede span het 64-12 gewen.

Nic Tyler, `n woordvoerder van Hillcrest, sê Mets het aansienlik verbeter en het groter vasbeslotenheid as in die eerste kragmeting tussen die twee spanne aan die dag gelê.

“Hillcrest, met sy visier op die bopunt van die punteleer gerig, het hom geensins van stryk laat bring nie, en het die spel uit die staanspoor oorheers.

“Uitmuntende vertonings deur die haker, Sheldon Phillips, en die losskakel, Jason de Bruyn, het verseker dat die telbord aan die rol bly en Hillcrest tien drieë druk.”

Drie drieë deur die skrumskakel, Gerhard Botha, en twee deur die kloekmoedige kaptein, Brian Lewis, het die uitwerking wat `n sterk wind op die skoppers gehad het grootliks teengewerk.

Tyler sê `n drie elk vir die dinamiese tweetal, Alex Klewinghaus en Wade Windell, asook drieë deur Brandon Waugh, Mat Hill en die plaasvervanger Jarred Ground het die seël op `n oortuigende sege geplaas.

Phillips was die beste voorspeler en Dolfie Brits die beste agterspeler.

Tyler berig die eerste 20 minute van die tweedespanwedstryd het betreklik gelykop verloop, maar daarna het Hillcrest sy stempel op die kragmeting afgedruk.
“`n Klompie sleutelfoute en vurige verdediging het het Hillcrest deurentyd wakker gehou deurdat Mets immer gereed was om elke geleentheid uit te buit.”

Chaise Mclaughlin (voor) en Phillip Calitz (agter) was die spelers van die wedstryd.
Hillcrest speel Woensdag teen Harlequins, wat van die Bluff af na Durban Shongweni reis. Die tweede span speel 19:00 en die eerste 20:30.

Ander uitslae –

Premierliga-Top5-Reserwes (Wyliebeker)

College Rovers 50, Varsity College 0; Amanzimtoti 34, UKZN Impi 0.

Premierligareserwes Onderste 5

Newcastle 15, Zululand Rhinos 5.

Eerste Liga (Suid)

Harlequins 26, UKZN Durban 22; Westville 23, Richardsbaai 19; Pietermaritzburg Collegians 27, Ballito Dolphins 24.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Harlequins 24, UKZN Durban 0; Richardsbaai 20, Westville 19; Pietermaritzburg Collegians 25, Ballito Dolphins 0.

O.20A-uitklopligahalfeindstryd (Basil Medwaybeker)

Durban Collegians 4, Crusaders 0; Varsity College 27, College Rovers 19.

kzn middellandO.20B-uitklopligahalfeindstryd (DW Geddiebeker)

Durban Collegians 45, College Rovers 7; Varsity College 26, Harlequins 19.

Derde Liga (Walkerbeker)

Pinetown 50, Amabubeshi 0.

Middelland

Ladysmith het Vrydag met `n sege van 45-10 oor Voortrekker-oudleerlinge van Pietermaritzburg dat hy nie meer ingehaal kan word in die Middellandse Subunie se reeks om die Crowebeker nie.

In `n ander wedstryd het die huisige kampioen, Drakensberg van Winterton, die agteros, Greytown, 95-5 opgefrommel.

Opgesomde punteleer –

Ladysmith 35, Drakensberg 24, Voortrekker-oudleerlinge 17, UKZN III 7, Greytown 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.