KZN-liga: SCW slaan eerste slag in Premierliga

south coast warriors - logoSouth Coast Warriors van Uvongo het Vrydag sy eerste sege behaal sedert hy aan die begin van die seisoen sy buiging in die KwaZulu-Natalse Premierliga (Moorbeker) gemaak het.

Die Suid-Natallers het verras deur Crusaders 30-27 op sy tuisveld in Northwood te klop. Crusaders was rustyd 15-14 voor.

Die ligakampioen en Goue Bekerspan, Durban Collegians, het 95-7 met Newcastle Highlanders afgereken; en die bond se uitklopkampioen, College Rovers, het 36-0 teen die nuweling Jaguars gewen.

Amanzimtoti het Varsity College 14-5 geklop; en UKZN Impi het Zululand Rhinos van Empangeni 38-19 getroef.

♦ Christo Henderson, die Warriors se hoofafrigter, sê die sege is `n groot verligting vir die span.

“Daar was `n slag of wat dat ons baie naby daaraan gekom het, maar net-net nie die knoop kon deurhak nie.

“Die keer het die manne eenvoudig geweier om tou op te gooi en dit het vrug afgewerp,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Dit beteken geweldig baie vir ons, want Crusaders speel jaar ná jaar goeie rugby, en is gereeld onder die topdrie in die Premierliga.”

Henderson sê die Warriors het skitterrugby gespeel en niks minder nie as `n sege verdien.

Dis sy eerste oorwinning as afrigter in die Premierliga en `n besondere geleentheid vir die klub wat altyd onthou sal word.

“Vir `n span wat die afgelope twee jaar een van die topspanne in die Eerste Liga was, is dit nie maklik om skielik week ná week te verloor nie, en Vrydag was die beste wat die dokter kon voorskryf om die spelers wat wedstryd vir wedstryd hul liggame op die spel plaas se moraal en selfrespek te bevorder.”

Hy sê SCW se spel as in alle opsigte briljant. Die skrums was rotsvas, SCW was die beste by die afbreekpunte, sy agterspelers was uitmuntend.

“Ons moet nog aan die lynstaanwerk skaaf, en hoewel ons goed verdedig het, het daar steeds foute ingesluit waar spelers uit lyn uit opgegaan en dit ons twee paselladrieë gekos het.

“Dit was egter deur en deur `n puik vertoning deur die span.”

Henderson sê die skrumskakel Dylan Rust was die beste speler agterlangs, en die flank Brendon Rademeyer voor; maar spelers soos Jean van den Berg (agsteman), Jonty Fortuin (slot), Tienie Viljoen (buitesenter) en Donovon Horne (binnesenter) het eweneens uitmuntend gevaar.

Viljoen het 15 punte met `n drie, twee doelskoppe en twee strafdoele behaal. Die ander drieë is deur Ra-Iq Polker (losskakel), Fortuin (5) en Van den berg (8) behaal.

Die Warriors speel Saterdag tuis op die Douglas Mitchell-sportterrein in Uvongo teen die UKZN Impi.

Ander uitslae –

Premierliga Reserwes (Wyliebeker)

Crusaders 44, SCW 0; Varsity College 20, Amanzimtoti 14; College Rovers 61, Jaguars 0; Durban Collegians 135, Newcastle Highlanders 0; UKZN Impi 43, Zululand Rhinos 0.

Eerste Liga (Suid)

Westville Old Boys 44, Harlequins 7; Ballito Dolphins 22, UKZN Durban 10; Pietermaritzburg Collegians 27, Durban Mets 10.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

WOB 28, Harlequins 0; UKZN Durban 24, Ballito Dolphins 9; Pietermaritzburg Collegians 45, Durban Mets 3.

Derde Liga (Walkerbeker)

Durban Collegians 66, Kwantu Spears 5; Crusaders 31, College Rovers 17; Queensburgh 39, Pinetown 5.

O.20A-liga (Frank Norrisbeker)

Durban Collegians 41, Varsity College 17.

O.20B-liga (Kingspark-uitdaagbeker)

Varsity College 41, Durban Collegians 10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.