KZN-liga: Skotse driedruk-ster skitter weer tuis

Tythan Adams druk een van sy tien drieë. (Foto: Selkirk RFC)

Die beste agterspeler in verlede jaar se Goue Bekerreeks skitter weer tuis nadat hy tydens die afgelope Skotse seisoen tussen die klub Selkirk se voorste driedrukkers geëindig het.

Die vleuel Tythan Adams, wat tien drieë in 13 wedstryde vir die Skotse klub gedruk het (die derde meeste), het Saterdag ʼn tweekuns vir sy ou klub, die KwaZulu-Natalse kampioen College Rovers, behaal.

Rovers het Varsity College (VC) met 38-17 in die reeks om die Moorbeker geklop.

Saterdag se wedstryde het veel mededingender as die vorige week verloop; en Durban Collegians het Richardsbaai met 19-10, en Amanzintoti vir Northwood Crusaders met 17-14 geklop.

In die Premierliga se Onderste Vyf-afdeling het Zululand Rhinos met 24-15 teen Newcastle Highlanders gewen; en UKZN Impi het Jaguars van Sydenham met 44-34 geklop.

Rovers het seker gemaak van die o.20A-liga en die Frank Norrisbeker, deur VC met 22-6 te klop.

Swak skopwerk

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê swak skopwerk pale toe en ʼn gebrek aan afronding het sy span in Empangeini gekelder.

Die tuisspan was rustyd met 12-5 voor.

“In ʼn wedstryd wat enige span kon wen, was dit op die ou end Jors Danhuaser (losskakel) van die Rhinos wie se akkurater skopwerk die verskil gemaak het.

“Highlanders het die laaste 30 minute van die wedstryd in die Zoeloelanders se gebied geboer, maar kon eenvoudig nie ʼn bres in die verdediging slaan nie.

“Toe Ferrari Hadebe (linkervleuel) gaan druk het, het dit gelyk of die Highlanders beheer van die wedstryd oorneem, maar die doelskop is gemis.”

Swanepoel sê die Rhinos het vinnig teruggeslaan en hul vierde drie gedruk om met 24-10 voor te loop.

“Met 15 min oor het Jacques van Rooyen (agsteman) oorgeval ná ʼn goeie dryfbeweging van ʼn lynstaan af, maar weer was die doelskop mis (24-15); en met tien minute oor het Van Rooyen wéér oorgebars, maar ongelukkig die bal verloor.”

Swanepoel sê die Rhinos het in die laaste vyf minute (met 14 man) met alles tot hul beskikking hul doellyn verdedig.

“Highlanders het die een aanval op die ander van stapel laat loop, en ʼn geel kaart vir aanhoudende oortreding het die tuisspan amper duur te staan gekom. Hy het egter vasgebyt, en Highlanders kon hom nie sink nie.

“Van Rooyen (agsteman) en die reserwe-losvoorspeeler Dian Boshoff het die bal uitmuntend gedra, en soos gewoonlik het Mthoko Nkwanyana, wat baie vinnig vir ʼn haker is, sy kant gebring en ʼn baie goeie drie gedruk.

“Van Rooyen en Nico-Jan Chowles (slot) was heel vernuftig in die lynstane, en het ʼn paar balle by die teenstanders afgeneem.”

Hy sê Adriaan Koorts (loskopstut) en Boela van Rooyen (plaasvervanger) het puik geskrum, en die kaptein Wandile Sibiya (slot) was ʼn rots op die verdediging.

“Agterlangs speel Max Mkhize (buitesenter) sy heel beste rugby by die klub, en Bradley Swartbooi (losskakel) het ʼn goeie wedstryd beleef.

Lewazi Mthembo het die nommer 9-trui nou syne gemaak, en vertoon met elke wedstryd beter.”

Ander uitslae –

Premierreserweliga (Topses)

VC 21, Rovers 19; Collegians 90, Richardsbaai 0; Toti 19, Crusaders 12.

Premierreserweliga (Onderste Vyf)

Newcastle 20, Rhinos 17; Jaguars gee punte teen UKZN.

Onder 20A-liga

UKZN 45, Jaguars 40; Crusaders gee punte teen Collegians.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.