KZN-liga: span stapel rekord van 154 punte op

ʼn Onder 20-span het Saterdag ʼn rekordgetal, sover vasgestel kan word, van 154 punte in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se reeks om die Frank Norrisbeker aangeteken.

College Rovers o.20A het 21 doele en twee drieë aangeteken om South Coast Warriors (SCW) met 154-0 te verslaan.

Ian Tait, die klub se direkteur van o.20-rugby, laat weet die losskakel Cliven Loubser se 31 punte het ʼn drie ingesluit.

Loubser is onlangs ingesluit in Namibië se senior span wat aan die reeks om die Nasiesbeker in Montivideo, Uruguay, gaan deelneem. Hy het reeds die land in die Hongkong-sewes verteenwoordig.

Die flank André Coetzee het 27 punte met vyf drieë en ʼn doelskop aangeteken. Hy is verwant aan die gewese Springbok-drieëvraat Stephen Terblanche.

Drie spelers – Shane van Rooyen (heelagter), Craig Hunt (regtervleuel) en Jacques Ackerman (agsteman) – het driekunste behaal.

Hunt se oupa is Saterdagoggend oorlede, maar hy wou vir dié speel en het sy wedstryd aan hom opgedra.

Tait sê Neil Otto (flank) het besonderse goeie leierskap aan die dag gelê, en die spelers kalm en op hul taak gefokus gehou.

Hy sê die puntemakers was nooit van belang nie, want die spelers en afrigters se leuse is: “Dit maak nie saak wie dit aanteken nie … solank dit aangeteken word”.

Bruut

“Veral die wyse waarop die span sy wedstrydplan uitgevoer het, het beïndruk. SCW is ʼn taai span wat Rovers in die eerste ronde deeglik besig gehou het.

“Ons het geweet ons moet by die afbreekpunte oorheers, SCW balbesit ontsê, en in ons speelpatroon glo en daarby hou.
“Rovers was bruut, en binne 20 min met 36-0 voor.”

Tait sê ʼn span wyk maklik van die plan af as die spel eensydig raak, en die spelers elkeen op sy eie begin speel. Dit het in die eerste helfte vyf minute lank gebeur, en die spel het uitgerafel.

“Ná rustyd het Rovers weer die stang vasgebyt en aangehou punte aanteken, selfs met al die bankspelers op die veld. Die wenspan het ná 70 minute die spel kortgeknip, toe hy die groot punteverskil tussen hom en die voorloper in die liga uitgewis het.”

Landwyd

Hy is trots met dit wat die spelers en afrigters vermag het, maar veral ʼn riem onder die hart dat die spelers nederig gebly het, nooit SCW verkleineer of beledig het nie, en hom enduit met respek behandel het.

Tait sê die Rovers-span is wyd verteenwoordigend en bevat spelers uit Kimberley, Kroonstad, Bloemfontein, Odendaalsrus, Richardsbaai, Ixopo, Colesberg, Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen, Windhoek en Durban.

Die voorspelerafrigter, Nikolai Blignaut, het die Sharks, Boland en die Opkomende Springbokke verteenwoordig; en die agterlynbreier, Rob Scott, het by Maritzburg en Kearsney College afgerig.

Ander uitslae –

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

Varsity College (VC) 88, Crusaders 10.

Onder 20B-liga (Kingsparkbeker)

Rovers 22, Crusaders 10; VC 31, Crusaders 8.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.