KZN-liga: spelers in motorongeluk voor stryd

Newcastle Highlanders - logoSpelers van die deur beserings geteisterde Newcastle Highlanders was boonop Saterdag in `n motorongeluk onder weg Durban toe om die bond se kampioen, Durban Collegians, in die Premierliga aan te durf.

Collegians was rustyd reeds 59-0 voor en het die wedstryd 90-7 gewen.

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, berig die motor is `n wrak, maar daar was gelukkig  geen ernstige beserings nie.

“Die manne is vir skok behandel, maar ons het voorgegaan en gespeel.”

Swanepoel sê die Highlanders het in die tweede helfte dapper verdedig en selfs `n drie gaan druk.

“Nog twee geleenthede is geskep om te druk, maar die afronding was nie daar nie.”

Hy sê die voorspelers het hul man deeglik gestaan, maar die agterlyn het heeltemal verskil van die span wat met South Coast Warriors afgereken het.

“Die Highlanders het weereens sonder sy beseerde skrumskakel, binnesenter en regtervleuel gespeel en die losskakel was weens werkomstandighede nie beskikbaar nie.

“Dit neem egter nie weg nie dat Collegains `n span is wat wat alles voluit en met oorgawe doen.

“Die Sharks-flank Francois Kleinhans was veral `n doring in die Highlanders se vlees. Dieselfde geld die vleuel Marcel Coetzee, wat nes Kleinhans deur die Sharks vrygestel is om klubrugby te speel.”

Swanepoel sê die Highlanders het veral in die lynstane en skrums goed gevaar, maar kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.

“Spelers soos Errit Visser (agsteman), Robert Everson en Wandile Sibiya (slotte) sal geen span in die Premieriga in die steek laat nie.”

“Krediet moet ook gaan aan Langa Shabalala wat gewoontlik losskakel of heelagter vir die o.20-span speel, en Saterdag goed gespeel het toe hy op skrumskakel moes uithelp.

Hy loof die spelers dat hulle weereens nie moed opgegee het nie.

“Die grootste les wat ons uit die liga leer, is dat `n mens jou foute moet beperk en jou geleenthede moet benut.

“Insgelyks stel dit `n speler se tekortkominge bloot en kan `n mens daaraan werk om sake reg te stel.”

Obhejane bo in Rawbeker

♦ Die Middellandse Subunie se Vierde Liga-kampioen, Obhejane, het boaan die punteleer in die reeks om die Rawbeker geeëindig deur sy vernaamste uitdager, Cedara, Vrydag 19-12 te klop.

In die ander wedstryd in die liga het die agteros, Howick Eagles, vir Nagle Dam Rhinos eweneens 19-12 te klop.

In die reeks om die Crowebeker (Derde Liga) het Ladysmith uiteindelik sy rieme styfgeloop toe die heersende kampioen, Drakensberg (Winterton), hom 17-7 geklop het. Die verloorspan is egter steeds boaan die punteleer.

Voortrekker-oudleerlinge (Pietermaritzburg) het UKZN III (Pietermaritzburg) 34-14 geklop.

Opgesomde punteleer –

Crowebeker

Ladysmith 20, Drakensberg 19, VOB 12, UKZN III 7, Greytown 0.

Rawbeker

Obhejane 22, Cedara 17, Nagle Dam Rhinos 11, Howick Eagles 9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.