KZN-liga: strafskop vir ‘voor die bal’ laat raai

Bid jou aan: ʼn strafskop word toegeken teen ʼn span wat glo by ʼn inskop van die 22 m-lyn voor die bal is.

André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê hy het nog nooit in sy lewe daarvan gehoor nie, maar dis wat Newcastle se o.20-span in sy jongste wedstryd Donderdag teen Varsity College (VC) getref het.

Hy is nie net ʼn veteraanafrigter nie, maar het in sy speeldae om en by 100 provinsiale wedstryde agter sy naam geplaas.

Swanepoel sê die span was ongelukkig om die wedstryd met 24-27 te verloor (rustyd 17-17).

Daar was ook ander vreemde skeidsregtersbesluite, “maar dit daar gelaat, want dit gaan geen verandering aan die telling maak nie”.

Hy sê dit was ʼn heel interessante wedstryd, want geeneen van die spanne het die oorhand oor die ander gehad nie.

“Wat veral goed was, is dat die drieë wat gedruk is, uit oop spel gedruk is. Daar is min indien enigsins van lynstane af gedryf, en dit was ʼn lekker wedstryd om dop te hou.

“Wat ek gesien het, is dat indien ons die spelers by die klub kan hou, dit net positief vir die toekoms van die Higlanders kan wees. Ongelukkig kan ons reeds drie spelers verloor wat deur die Pumas se o.20’s genader is. Die klub en die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) moet nog besluit of hulle die spelers hul kontrakte sal kwytskeld.”

Swanepoel sê tussen die voorspelers het Claude Teller (slot) gewys hoekom hy een van die spelers is wat geteiken is.

Bresse geslaan

“Hy het die bal goed gedra en is ʼn dodelike verdediger. Ruan Fourie (agsteman en kaptein), wat al vir die eerste span gespeel het, het ook beïndruk.

“Dan het Shane van Rooyen (losskakel) ook gewys waarom hy op die Pumas se lys is. Hy het ʼn paar bresse in die verdediging geslaan. Ongelukkig het hy sy enkel beseer en kon nie pale toe skop nie.

“Die talentvolle Meldon Bezuidenhout (buitesenter) het getoon dat ʼn blink toekoms by die Highlanders op hom kan wag.”

Frikkie Hendriks (loskopstut) het twee van die Highlanders se drieë gedruk en Fourie een. Van Rooyen het voor sy besering met twee doelskoppe geslaag, en Jandré Human (heelagter) het ʼn doelskop en ʼn strafdoel behaal.

Die span se volgende wedstryd is 6 Mei teen Amanzimtoti op Toti.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

thelsa ·

Skeidsregter heeltemal reg. Reëls is reg vertolk. Dit gebeur tellens in wedstryde dat spelers voor die bal is met in- of afskoppe. Word nie meer deesdae gestraf. Hou maar TV dop vir soortgelyke voorvalle

Wim van der Berg ·

Die skeidsregter was verkeerd om ʼn strafskop toe te ken omdat spelers voor die skopper was by die 22 m-inskop.
Behalwe as daar herhaalde vorige oortredings was waar spelers voor die bal was en daaroor gewaarsku is, word ʼn skrum beveel as spanmaats voor die skopper is by ʼn 22 m-inskop. Reël 13.16(a) van die rugbyreëls lees: (a) All the kicker’s team must be behind the ball when it is kicked. If not, a scrum is formed at the centre of the 22-metre line. The opposing team throws in the ball.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.