KZN-liga: topspanne bevestig hul baasskap

collegians-logoDie twee topspanne in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga het Saterdag weer hul onteenseglike baasskap in die reeks bevestig.

Die Moorbekerkampioen en Goue Bekerspan, Durban Collegians, het South Coast Warriors (Uvongo) 87-5 verniel; en die Murraybekerhouer, College Rovers, het die Newcastle Highlanders 78-10 oorrompel.

In die ander wedstryde in die liga het Amanzimtoti 29-21 teen die Zululand Rhinos (Empangeni) gewen; die UKZN Impi het Jaguars 30-10 ondergesit; en Varsity College het Northwood Crusaders 22-15 geklop.

♦ College Rovers was eenvoudig vinniger, sterker en het `n hoër tempo in `n baie opwindende wedstryd gehandhaaf. Dit alles het bygedra tot Boschpick Newcastle Highlanders se loesing van 78-10 teen die Durbanse span op Newcastle, sê André Swanepoel, die tuisspan se hoofafrigter.

“Rovers het rustyd 54-0 voorgeloop, en dit strek tot die Highlanders se eer dat hulle nooit tou opgegooi het nie, en in die tweede helfte slegs 24 punte afgestaan en self tien aangeteken het.

“Die Highlanders het voor `n volgepakte stadion vriend en vyand verras deur baie goed in die skrums en lynstane te vaar.”

Swanepoel sê Rovers was onder geweldige druk in die skrums, en die Highlanders het baie goed op hul eie lynstaaningooie gevaar en skoon balle gewen.

“Dit klink dalk onwaar, maar ek moet my spelers krediet gee dat hulle nooit moed verloor het nie en deurgaans positiewe rugby bly speel het.

“`n Paar geleenthede is wel deur die flukse spel geskep, maar sake het met die afronding geskort. Daar is amper nog twee drieë gedruk, wat aan ons `n bonuspunt kon besorg het.

“In die een geval was Brian Buthelezi (regtervleuel) oor die doellyn, maar hy het die bal aangeslaan. In die ander geval het Rovers die bal naby sy doellyn onderskep.”

Newcastle Highlanders - logoSwanepoel sê `n fout op hierdie vlak kos `n span gewis punte. Waar Highlanders in die Noord-Natalse liga daarmee weggekom het, word hulle nou deur spanne soos Rovers gestraf.

Hy is egter hoogs tevrede met die agttal wat baie goed geskrum het waarvan die lynstaanwerk uitstekend was.

“Ons bly positief, en sál en wíl verbeter namate die liga vorder.”

Swanepoel sê sake loop agterlangs nog nie seepglad nie, en die afwesigheid van die ervare manne wat nog beseer is, word terdeë gevoel. Boonop lyk dit of al vier die beseerdes eers oor `n week of vier beskikbaar sal wees.

Nes die vorige week is Siphewe Zulu (skrumskakel) as die speler van die wedstryd aangewys. Voorlangs het die kaptein, Errit Visser (agsteman), goed gevaar.

Die haker, Pieter Keeve, is binne vyf minute met `n ernstige kniebesering van die veld gedra en is vir die res van die seisoen uit.

Swanepoel sê Keeve se plaasvervanger, Siswe Mavundla, verdien groot lof dat hy reeds 80 minute lank vir die tweede span gespeel het, en toe nog 75 vir die eerste span, waarin hy steeds baie goed geskrum en die bal perfek by die lynstane ingegooi het.

Alex Booysen (linkervleuel) en Janri Barnard (buitesenter) het die Highlanders se drieë gedruk.

Hillcrest Villagers♦ In die reeks om die Wylliebeker het Land Rover Durban Hillcrest Villagers 30-17 teen Westville Old Boys (WOB) gewen. WOB se tweede span het op sy beurt 27-5 gewen.

Danielle Audibert, die woordvoerder van Villagers, sê die kragmeting tussen die twee eerste spanne het aanvanklik baie gelykop verloop, maar Villagers het in die tweede helfte die oorhand gekry.

Brandon Waugh en Jason de Bruyn het elk twee drieë vir die wenspan gedruk en Dolfy Britz een. Alex Klewinghaus het `n doelskop en `n strafdoel behaal.

Brian Lewis en De Bruyn is as die selers van die wedstryd aangewys,

Vir die tweede span het Jacques Gey van Pittius en Nathi Gono uitgeblink, met laasgenoemde wat die span se enigste drie gedruk het.

Ander uitslae –

Premierliga Reserwes (Wyliebeker)

College Rovers 87, Newcastle Highlanders 7; Amanzimtoti 79, Zululand Rhinos 5; Varsity College 14, Crusaders 10; UKZN Impi 24, Jaguars 22; Durban Collegians 85, South Coast Warriors 5.

Eerste Liga (Suid)

Richardsbaai 30, Pietermaritzburg Collegians 17; Balito Dolphins 35, Harlequins 29; UKZN Durban 27, Durban Mets 12.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Richardsbaai 15, Pietermaritzburg Collegians 0; Harlequins 29, Ballito Dolphins 20; UKZN Durban 20, Durban Mets 7.

Derde Liga (Walkerbeker)  

Pinetown 20, Kwantu 0; Queensburgh 8, College Rovers 0; Crusaders 48, Amahbubesi  0.

Onder 20A-liga (Frank Norristrofee)

Varsity College 17, Crusaders 9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.