KZN-liga: vlaag drieë klink Collegians se doppie

ʼn Vlaag drieë in die tweede helfte van Hillcrest Villagers se wedstryd Vrydag teen Pietermaritzburg Collegians in die Woodburnstadion in Pietermaritzburg het die tuisspan se doppie geklink.

Die besoekers se eerstespan het met 48-0, en die tweedespan met 31-17 gewen.

Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban Hillcrest, sê ná die span se klinkende oorwinnings oor Collegians in die eerste ronde, moes daar kwaai teen oorgerustheid gewaak word.

“Die eerste spanne se wedstryd het in ʼn hoe tempo weggespring, met Villagers wat die bal in die hande gehou, en die teenstanders laat skarrel het om te verdedig. Uitmuntende steunspel het vroeg-vroeg tot ʼn drie deur JP Brown gelei.

“Collegians het hom egter nie laat rondstamp nie, en met fisieke spel in die kontaksituasies teruggeveg.

“Toe Hillcrest pas voor en weer kort ná rustyd nóg punte aangeteken het, was die tuisspan se fut uit, en het die besoekers sy doppie met ʼn vlaag drieë geklink.”

Missen sê die uitmuntende gesamentlike leierskap en individuele vertonings van Henkie Groenewald en Brian Lewis, onderskeidelik die voor- en agterspeler van die wedstryd, was die katalisator vir die sege.

“Villagers se hardebaard, Lewis, is onlangs eers terug in die tuig ná ʼn lang tyd op die krukkelys met ʼn gebreekte kakebeen.”

In toom gehou

Missen sê Hillcrest se tweedespan het gesukkel om enige mate van ritme teen ʼn moedige Collegians-span op te vind.

“Villagers het in die loop van die kragmeting etlike kanse verspil, maar in kritieke stadiums punte behaal om die tuisspan in toom te hou.

“ʼn Oplewing laat in die wedstryd het Collegians die gaping laat krimp, maar ʼn puik drie deur Gareth Lovell, Hillcrest se buitesenter, het die laaste spyker in die tuisspan se doodkis geslaan.”

Hy sê die verskil tussen die twee spanne is sonder twyfel deur die inspanning van Jakes de Jager (senter) en Martin van Rooyen (slot) teweeggebring.

Hillcrest speel Saterdag op sy tuisveld, die Durban Shongweniklub, teen Durban Mets. Die wedstryde begin 14:00 en 15:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.