KZN-liga: Wegholseges kenmerk Wahl se dag

Newcastle Highlanders - logoVier wegholseges het die afskop van die KwaZulu-Natalse Premierliga op die Wahl Baartmann-klubdag op Kingspark in Durban gekenmerk.

Die Moorbekerhouer, Durban Collegians, het Zululand Rhinos van Empangeni 61-7 geklop; en die Murraybekerhouer (uitklopliga), College Rovers vir Varsity College 50-7.

Amanzimtoti, wat in die onlangste Flyareeks met sowel Collegians as Rovers afgereken het, het South Coast Warriors van Uvongo 65-16 getroef.

Die Dewarskildhouer (Eerste Liga), Jaguars van Durban, het die Noord-Natalse kampioen, Boschpick Newcastle Highlanders 30-5 geklop nadat hulle rustyd reeds 20-5 voor was.

♦ André Swanepoel, die Highlander se hoofafrigter sê sy span kon geen ritme vind nie.

“Dit was fout op fout deur die hele wedstryd en Jaguars het die foute en swak dissipline genadeloos uitgebuit. Hulle het 23 punte aangeteken in die 20 minute wat Wynand Pelser (haker) en Janri Barnard (buitesenter) met geel kaarte van die veld af was.

“Nes dit gelyk het of die Highlanders hul voete vind of iets kan bewerkstellig, het sake weer skeef geloop.

“Alles het eenvoudig verkeerd geloop – die lynstane, afskoppe en hantering was swak en ons sal vining moet aanpas,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Swanepoel sê agt spelers was wel nie beskikbaar as gevolg van beserings en werkverpligtinge, maar elke instaanspeler moet moet die kans aangryp as hy dit kry.

“Ek het die spelers gewaarsku dat as `n mens `n fout in hierdie liga maak, sal die span deur sy teenstander gestraf word. Die Jaguars het dit Saterdag bewys, en die topspanne is nog gevaarliker.

“Ons sal dus voor komende Saterdag se wedstryd teen Rovers hard moet werk aan wat verkeerd geloop het.”

Wandile Nkosi (heelagter) het Highlanders se enigste drie gedruk.

Jaguars II het Highlanders II 29-21 geklop; en Utrecht het 30-12 teen Highlanders III gewen.

Ander uitslae –

Premierliga Reserwes (Wyliebeker)

Amanzimtototi 65, South Coast Warriors 3; Durban Collegians 117, Zululand Rhinos 0; College Rovers 40, Varsity College 6.

Eerste Liga (Suid)

Richardsbaai 22, Ballito Dolphins  10; Hillcrest 19, Pietermaritzburg Collegians 13; Westville 38, UKZN Durban 29; Harlequins 19, Durban Mets 12.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Richardsbaau 32, Ballito Dolphins 7; Hillcrest 13, Pietermaritzburg Collegians 11; Westville 17, UKZN Durban 5, Harlequins 7, Durban Mets 0.

Vriendskaplik

Zululand Rhinos 14, Amabubheshi 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.