KZN-liga: wegholseges kenmerk weekronde

Wegholseges het weer Saterdag se wedstryde in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga gekenmerk.

In die Topses-afdeling het die verdedigende kampioen, College Rovers, met 70-15 teen Northwood Crusaders gewen, en Varsity College (VC) het Richardsbaai met 68-8 afgeransel.

Wat die Onderste Vyf-afdeling betref, het UKZN Impi met 55-15 teen Newcastle Highlanders oorheers.

André Swanepoel, die klub se hoofafrigter, sê Boschpick Newcastle Highlanders was rustyd reeds 3-31 agter.

“Impi het in die eerste helfte elke geleentheid gebruik, en teen rustyd was dit ʼn kwessie van inhaalrugby vir Highlanders.

“Hulle het egter in die tweede helfte getoon hulle kan terugveg, en kort ná die afskop het Mthoko Nkwayana (haker) uit sy eie kwartgebied deurgehardloop, vorentoe geskop en die bal toegeval, maar ongelukkig het die skeidsregter beslis dat hy nie die bal gedruk het nie.

“Die Highlanders het die laaste 30 minute ál die speelwerk gedoen, maar hul afronding het hulle in die steek gelaat. Impi het dit uitgebuit om nog drie drieë te druk.

“Newcastle het self twee drieë gedruk, en Adriaan Koorts (loskopstut) was net kort van ʼn tweede drie.”

Swanepoel sê die Highlanders het aanvanklik swaar geleef in die skrums, maar het toenemend beter gevaar namate die wedstryd gevorder het.

Onderskepdrieë

“Die span se lynstaanwerk is die hele seisoen nog baie goed, en Nico-Jan Chowles (slot) het omtrent elke lynstaan vir die Highlanders gewen.

“Agterlangs het Max Mkhezi (buitesenter) weer ʼn baie goeie wedstryd gehad, en Senzo Mbuli (regtervleuel) het verbaas met sy krag en vaart.”

Swanepoel wys op die baie positiewe gesindheid wat tans in die klub heers, en sê daar het selfs te veel spelers by Saterdag se vertrek na Pietermaritzburg opgedaag, sodat hy spelers moes wegwys.

Hy sê twee onderskepdrieë was die tweedespan se ondergang. Dié span het met 13-22 verloor, sy eerste nederlaag in sewe kragmetings.

Highlanders III het die derde agtereenvolgende jaar sy liga in die Noord-KZN-subunie se reekse gewen met ʼn goeie oorwinning van 36-5 oor Flying Eagles van Dannhauser.

Ander uitslae –

Premierliga (Topses)

Durban Collegians 26, Amanzimtoti 10.

Premierreserweliga (Topses)

College Rovers 63, Crusaders 27; Collegians 20, Amanzimtoti 7; VC 97, Richardsbaai 10.

Premierliga (Onderste Vyf)

South Coast Warriors (SCW) 43, Zululand Rhinos (Empangeni) 19.

Premierreserweliga (Onderste Vyf)

SCW 36, Rhinos 33.

Eerste Liga (Suid)

Westville Old Boys (WOB) 27, Ballito Dolphins 19; Pietermaritzburg Collegians 29, Durban Mets 29.

Eerste Liga-reserwes (Suid)

WOB 26, Ballito 10; PMB Colligians 27, Durban Mets 10.

Derde Liga

Rovers 21, DBN Collegians 20; Crusaders 92, Amabhubesi 0.

Onder 20A-liga

Rovers 29, DBN Collegians 19; VC 73, UKZN 3; Crusaders 83, SCW 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.