KZN-liga: wegholseges weereens aan die orde

Wegholseges was Saterdag weereens aan die orde van die dag in die jongste weekronde van die KwaZulu-Natalse Premierliga.

Die Moorbekerhouer en Goue Bekerspan, College Rovers, het Newcastle Highlanders met 85-0 verslaan; Varsity College (VC) het UKZN Impi met 46-0 geklop; die Murraybekerhouer en eweneens ʼn Goue Bekerspan, Durban Collegians, het met 31-0 teen Richardsbaai gewen; Crusaders het Jaguars met 48-20 ondergesit; en Amanzimtoti was met 36-13 baas teen South Coast Warriors (SCW).

In die Eerste Liga het die kragmeting tussen die onoorwonne Hillcrest Villagers en Westville Old Boys (WOB) op ʼn sege van 35-12 vir eersgenoemde uitgeloop.

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê sy span het ongeag die telling mannemoed aan die dag gelê, en Rovers het 60 min lank gesukkel om teen die Noord-KwaZulu-Natallers aan die gang te kom.

“Die Highlanders het met opskietverdediging, veral in die eerste helfte, Rovers gedwing om die een fout ná die ander te begaan.

“Ons het geweet as ʼn mens dié manne ruimte gee, is jy in die moeilikheid. Ons het van die lynstane af Max Mkhezi (buitesenter) tussen hul 13-en-11- of -14-kanaal laat inskiet, en hy het dit briljant uitgevoer.

“Ons het die wedstryd in agt dele van 10 min elk verdeel, en ná 40 min was die telling 28-0. Die manne het met hart en siel verdedig, en mooi gedoen wat ons geoefen het,” het Swanepoel aan Pale Toe! gesê.

“Ongelukkig het Highlanders nie die diepte nie, en toe albei senters, die linkervleuel, ʼn slot, albei stutte en ʼn flank in die laaste 20 min met beserings van die veld af is, het die damwal gebreek.

“Rovers verdien lof dat hy soveel punte in die swak weersomstandighede kon aanteken. Dis die kenmerk van ʼn goeie span.”

Swanepoel sê Newcastle het veel positiefs om uit die eerste 60 min te neem, en op grond daarvan Saterdag vir 80 min verdediging en aanval teen Jaguars in Durban te kombineer.

“Ruan Fourie (agsteman) het sy hart uitgespeel, en is saam met Mkhezi onderskeidelik as Highlanders se voor- en agterspeler van die wedstryd aangewys.

♦ Johan Stander, die voorsitter van WOB, laat weet Cameron Chiocchetti en Keegan Paverd het WOB se drieë in sy nederlaag teen Hillcrest Villagers gedruk, en Matthew Larkins het een verdoel.

Hillcrest II het naelskraap met 5-3 teen WOB II gewen. Shane Savage het WOB se punte met `n strafdoel aangeteken.

Crusaders III het WOB III met 45-5 afgeransel, en Jethro Mickleburgh het WOB se drie gedruk.

Ander uitslae –

Premierreserweliga (Wyliebeker)

Toti 76, SCW 0; Rovers 100, Newcastle 0; Collegians 68, Richardsbaai, 0; Crusaders 48, Jaguars 0; VC 20, UKZN Impi 16.

Eerste Liga (Suid)

Durban Mets 19, Queensburgh 14.

Eerste Liga-reserwe

Queensburg gee punte teen Durban Mets.

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

Rovers 20, Collegians 16; VC 43, UKZN 0.

Onder 20B-liga

Collegians 16, Rovers 14; VC 90, Zululand Rhinos 10.

Middelland-subunie

Derde Liga

Ladysmith Bulldogs 19, Drakensberg (Winterton) 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.