KZN-Moorbeker gewen; Valke-kampioen kry slae

Die KwaZulu-Natalse Moorbeker het sommer vroeg al ʼn baas gekry; en die Valke-kampioen is Saterdag verrassend getroef.

Dit is van die jongste verwikkelinge op die Suid-Afrikaanse klubrugbytoneel.

College Rovers het seker gemaak hy wen die KZN-Premierliga die derde keer op die ry af, toe hy Crusaders met 49-12 oorrompel het.

Durban Collegians moes op sý beurt kwaai spook om Varsity College met 39-29 onder te sit.

Amanzimtoti het UKZN Pietermaritzburg met 34-22 geklop.

Ander uitslae –

Eerste Liga (Suid)

Hillcrest 44, Jaguars 19; South Coast Warriors 31, Westville Old Boys 26; Pietermaritzburg Collegians 25, Ballito Dolphins 19; UKZN Durban 43, Durban Mets 8.

Onder 20A-uitklopreeks (Basil Medway-beker)

Crusaders 39, UKZN Durban 15; Middelland 19, College Rovers 12.

Middelland

Voortrekker-oudleerlinge (VOL) het Greytown met 29-7 verslaan om die voortou in die Middelland-subunie se Crowebeker-reeks te neem.

VOL II se oorwinning van 55-15 oor Young Lions (Woodlands) plaas hom boaan die Rawbeker-punteleer.

Obhejane, Howick Eagles en Nagle Dam Rhinos is almal uit die Middelland-ligas geskors omdat hulle nie hul bepalings nakom nie.

Valke

Die gevreesde “Begraafplaas” in Reigerpark was Saterdag ook die Valke-kampioen, Vereeniging, se ondergang toe East Rand United (ERU) hom met 48-40 geklop het.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, sê sy span het die kragmeting reeds in die eerste helfte beklink, en was rustyd al met 34-7 voor.

“Hulle het die voet in die tweede helfte van die pedaal gelig,” sê hy.

“ERU se bonkige skrumskakel, Tiaan Ramat, was die speler van die wedstryd. Hy het die voorspelers deurentyd aangevuur, en sy algehele spel was uitstekend. Sy ondersteunende spel was van die boonste rak, en hy is beloon met twee drieë.”

Ander puntemakers –

Drieë: Cameron Rooi, Leon Potgieter, Bakkies Bakumeni, Jonathan Botha. Doelskoppe: Cameron Rooi (6). Strafdoel: Cameron Rooi. Skepdoel: Clayton Gindan.

Limpopo Blou Bulle

Northam Rhinos, die Limpopo Blou Bulle se verdedigende kampioen, speel Donderdag 18:00 op Loftus Versfeld, Pretoria, teen ʼn vyftiental wat uit die Blou Bulle se SuperSportgroep saamgestel word.

SWD

Crusaders (George) het wéér sy stem dik gemaak toe hy Evergreens (Pacaltsdorp), wat die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga lank oorheers het, met 26-24 getroef het, nadat hy die vorige week met 29-26 teen Bridgton (Oudtshoorn) gewen het.

Die verdedigende kampioen, Progress (George), het oortuigend met 34-13 teen Groot-Brakrivier gewen.

Ander uitslae –

Heidelberg 38, Blanco 7; Bridgton 33, Maori’s 28; Barbarians (Mosselbaai) 57, Silver Stars (George) 30.

WP

Hamiltons is tans die Westelike Provinsie se voorste oop klub (derde op die punteleer) nadat hy NTK Saterdag in die bond se Superliga A met 38-19 verslaan het.

Die onoorwonne Durbanville-Bellville en Valsbaai, laasgenoemde die verdedigende Goue Beker-kampioen, is vierde en vyfde ná ʼn wedstryd minder .

Die studentespanne Ikeys en Maties is eerste en tweede in die senior reeks.

Tygerberg, wat ook verlede jaar in die Goue Beker-reeks gespeel het, het sy eerste sege vanjaar behaal deur Villager met 26-15 te klop.

St. George’s het met 28-22 teen Belhar gewen.

Boland

In die Bolandse Grootuitdaagreeks het die titelhouer, Roses United (Wellington), oortuigend met 38-17 teen Bella Vista (Ceres) gewen.

Elandskloof, die houer van die Gemeenskapskild, het Buffaloes (Buffeljagsrivier) met 43- 22 oorwin.

Luiperds

Lichtenburg, die houer van die Luiperds se Neserbeker, is steeds tweede in vanjaar se reeks, ná die onoorwonne Fochville, nadat hy Hartbeesfontein met 36-24 geklop het.

Zeerust, wat die Jaap Steyn-beker verlede jaar gewen het, en bevorder is, is derde ná sy groot sege van 43-20 oor Lonmin.

In die Jaap Steyn-liga is Vryburg tweede nadat hy op Leeudoringstad die tuisspan met 33-17 kafgedraf het.

Die voorloper, Westonaria, het ʼn loslootjie geniet.

Ander uitslae –

Jaap Steyn-liga

Ikageng 28, Hurricanes (Stilfontein) 0; Potchefstroom-landboukollege 66, Koster 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.