KZN-uitklopkampioen kry slae in vroeë toernooi

sharks-club-rugbyDie KwaZulu-Natalse uitklopkampioen het Vrydag verrassend pak gekry in die eerste ronde van die Flya-toernooi wat by Crusaders in Northwood plaasvind.

Jos Robson, die KZN-rugbyunie se klubrugbyskakelman, berig die gasheer het die bordjies verhang en Durban Collegians, die houer van die bond se Murray-uitklopbeker, met 24-17 geklop, ná Crusaders se groot nederlaag die vorige week teen einste Collegians.

William Holder, Spa Dube en Dawie Visagie het die wenspan se drieë gedruk en Bakkies Janse van Rensburg het die res met die skoen aangeteken. Collegians se drieë is deur Wade Elliott en Robbie Harris gedruk.

Die Moorbeker-kampioen, College Rovers, het darem op sy beurt met 20-13 teen `n vurige Amanzimtoti gewen.

Bei Tshamala, Grant Rattray en Matt Phillips het Rovers se drieë gedruk, en Gavin Scott het met `n doelskop en `n strafdoel geslaag. Matt McDonald en Ryno Els het Toti se drieë gedruk.

In die ander wedstryde het Jaguars van Sydenham met 14-9 teen Zululand Rhinos van Empangeni gewen, en Varsity College het Harlequins met 19-5 geklop.

Vrydag speel Rovers teen Crusaders in die Groep A-eindstryd, en Jaguars teen Varsity College in die Groep B-eindstryd.
Die wedstryde by Crusaders begin 18:30.

♦ In die eerste wedstryde om die Frank Norrisbeker het Durban Collegians o.20 die Jaguars se o.20s met 99-12 verniel, en College Rovers het South Coast Warriors met 44-5 oorweldig.

♦ Eshowe bied Saterdag die 71ste keer sy Bozasbeker-rugbydag aan.
Naas die gasheer sal Mandini, Richardsbaai, Empangeni, Esikhawini, Hluhluwe, die Universiteit van Zoeloeland asook uitnodigingspanne van Hillcrest en Crusaders in aksie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.