KZN-vleuel maak buiging met vier drieë

Newcastle Highlanders - logo`n KwaZulu-Natalse vleuel het Saterdag vier drieë in sy eerste wedstryd vir sy klub se eerste span gedruk.

Bryan Buthelezi het vier keer vir die Boschpick Newcastle Highlanders gedruk in die span se oorwinning van 48-42 teen Piet Retief (rustyd 36-14). Dit het hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg.

André Swanepoel, die Highlanders se hoofafrigter, berig dat albei spanne goeie hardlooprugby gespeel het en saam 14 drieë gedruk het.

“Highlanders se hoë wegspringtempo was een te veel vir Piet Retief en in die eerste 20 minute was die span van Newcastle reeds 28-0 voor, met Buthelezi reeds vier keer oor die doellyn.

“Hy het baie vaart, en tussen hom en Ferrari Hadebe, die ander vleuel, het hulle ses van die span se agt drieë gedruk.”

Swanepoel loof Piet Retief dat hy nooit opgegee het nie en sterk teruggeveg het

“`n Besering aan Piet Retief se kant, wat die noodhulpspan goed 15 minute lank op die veld besig gehou het, het Highlanders se ritme versteur. Sake is vererger toe Highlanders boonop drie agterspelers weens beserings moes vervang.”

Die span van Newcastle het goed in die vaste fasette gevaar en goeie balle aan sy gevaarlike agterlyn voorsien, wat dit goed benut het.

“Ek het vir die spelers gesê as hulle die hoë tempo vir 65 minute in die vriendskaplike wedstryde kan handhaaf, sal ek baie tevrede wees. Ons wil dit in elke wedstryd opskuif, sodat ons gereed is vir `n hoëtempo-wedstryd van 80 minute wanneer die liga begin,” het Swanepoel aan Pale Toe! gesê.

Benewens Buthelezi se vier en Hadebe se twee, het Jaco Botha en P de Beer drieë vir die wenspan gedruk. Janri Barnard het met vier doelskoppe geslaag.

♦ Highlanders neem Saterdag met drie spanne aan die Hoër Tegniese Skool Ligbron op Ermelo se rugbydag deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.