Laaste agt kry kans om plek in Goue Bekerreeks

goue bekerDie laaste agt spanne wat `n kans het om in die internasionale oopklubreeks om die Goue Beker te speel, pak mekaar Saterdag in die eerste uitspeelronde.

Die vier wenspanne sal 17 September kragte meet en die twee wat wen, sal die laaste twee plekke in die reeks vul.

Vaal Reefs (Luiperds) en Potgietersrus (Limpopo Blou Bulle) meet op die Klerksdorp-rugbyklub se veld kragte; Gardens (Oostelike Provinsie) en Oos-Londen Polisie (Grens) pak mekaar in die Derrick Ferreira-stadion op Uitenhage; Centurion (Blou Bulle) speel op sy tuisveld teen Wesbank (Boland); en College Rovers (KwaZulu-Natal) sê Raiders (Goue Leeus) op Kingspark se KP3 die stryd aan.

Die bepalings is saamgestel volgens die rangorde waarin die betrokke bonde se klubs in die vorige reeks geëindig het.

Al die wedstryde begin 15:00.

♦ Brakpan het vroeër Vereeniging 35-34 in `n ongelooflike naelbyt-eindstryd geklop om die Valke-kampioenskap te wen en die 18de van die 20 beskikbare plekke te vul.

potgietersrus - logoVaal Reefs teen Potgietersrus

♦ Dit sal `n groot verrassing wees as Potgietersrus sy kragmeting teen Vaal Reefs op Klerksdorp wen, maar die Noordwesters sal nie die wedstryd op `n skinkbord kry nie.

Die Bosvelders het by die agterdeur ingeglip toe Sasol van Secunda – wat Ferro’s van Witbank 42-29 om die Pumas-kampioenskap geklop het – aan die uitspeelronde onttrek het.

SJ Jonker, die afrigter van Potgietersrus, sê hulle is heeltemal onkant gevang, maar gaan die geleentheid met ope arms aangryp en die beste daarvan probeer maak, al moet hulle 500 meter ver Klerksdorp toe ry.

“Ons het geen kennis van Vaal Reefs of die soort rugby wat hulle speel nie.

Vaal-Reefs-logo“Potties sukkel met `n paar beserings en van die spelers het ná die Limpopo finaal klaar gespeel vir die seisoen.”

Jonker sê die enigste wedstryd wat Potties vanjaar verloor het, was toe hy willens en wetens `n tweede span gestuur het om die eerstespanspelers te laat rus.

“Ons hoop om hierdie naweek op ons wenrekord voort te bou. Die spelers en afrigters is opgewonde oor die geleentheid, en dankbaar tenoor Saru en die Goue Beker-organiseerders.”

♦ Cliff Holme, die voorsitter van Vaal Reefs, sê die klub weet insgelyks nie veel van Potties af nie, “maar as hulle die Limpopo-liga gewen het, sal hulle taai wees en ons verwag `n harde stryd”.

“Ons het `n paar weke lank nie gespeel nie, maar die manne is uitgerus en reg om te speel. Ons is vol vertroue, maar weet dit sal nie maklik gaan nie.”

Gardens teen Oos-Londen Polisie

Gardens-crop♦ Gesien die oorheersing van die OP-klubs vroeër vanjaar in die Oos-Kaapse Super12-liga oor die klubs van Grens, sal dit eweneens verras as Oos-Londen Polisie vir Gardens klop. Polisie is in dié reeks se halfeindstryd deur Spring Rose van New Brighton geklop.

Edgar Steyn, `n woordvoerder van Gardens, die OP se nuwe Grootuitdaagkampioen, sê die span sal Polisie gewis nie onderskat nie, “maar met die tuisveldvoordeel is ons gewis gereed vir die uitdaging”.

Centurion teen Wesbank

♦ Wesbank het verlede jaar die oopklubreeks se kwarteindronde gehaal en hom goed van sy taak gekwyt voor hy deur Hamiltons uitgeskakel is. Hy sal Saterdag sy tuisskare, welbekend vir sy toegewyde ondersteuning, mis.

Derick Slabbert, die voorsitter van Centurion, glo sy span kan Wesbank klop.

centurion-logo“Ons moet hulle eenvoudig nie kans gee om `n neus voor te kry dat hulle aan die hardloop gaan nie.

“As ons by ons strukture bly, en speel soos ons vanjaar gespeel het, het ons `n goeie kans.”

College Rovers teen Raiders

♦ Die kragmeting tussen College Rovers en Raiders in Durban het die potensiaal om Saterdag se strafste stryd op te lewer.

Albei spanne het verlede jaar in die reeks gespeel en sal bitter graag weer daar wil wees. Rovers was `n kwartfinalis en het uiteindelik in die Plaateindstryd teen Pretoria Polisie verloor.

raiders-logoFernando Penshaw, die hoofafrigter van Raiders, is oortuig sy span kan die wedstryd wen.

“Ons besef Rovers is `n uiters mededingende span, maar Raiders is dit eweneens.

“Om te wen, sal ons verdediging in die kol moet wees, ons besluitneming en disipline sal onbesproke moet wees. Ons voorspelers sal die grondslag vir die agterlyn moet lê, maar geduld met die bal sal uiters belangrik wees,” het hy aan Pale Toe! gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannes ·

Baie sterkte aan Potties rugby ons hoop julle trek hom deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.