Laaste lid van beroemde Springbokspan sterf

Johnny Buchler

Die laaste oorlewende lid van die beroemde Springboktoerspan van 1951-’52 na Brittanje en Frankryk is Dinsdag oorlede.

Die Transvaalse heelagter Johnny Buchler is, na berig word, in Roodepoort aan orgaanversaking oorlede.

Hy was 87 jaar oud.

Uit 31 toerwedstryde het die Bokke 30 (insluitende al die toetse) gewen, en slegs teen die Londense Graafskappe verloor. Die oorwinning van 44-0 oor Skotland op Murrayfield was jare lank ’n wêreldrekord.

Naas die vyf toetse op bogenoemde toer (teen Skotland, Ierland, Wallis, Engeland en Frankryk) het Buchler ook in 1953 in al vier teen die besoekende Wallabies gespeel en in die tweede toets teen Australië op die toer van 1956.

Sy agt toetspunte het uit ʼn strafdoel, ʼn doelskop en ʼn skepdoel bestaan.

Danie Craven, die onderbestuurder van die 1951-’52- en bestuurder van die 1956-toer, het hom as ʼn rotsvaste heelagter en ʼn diep godsdienstige mens bestempel, wat sy geloof op en van die veld uitgeleef het.

Die joernalis Chris Greyvenstein het gereken Buchler se kalme selfvertroue het veel vir die Bokke op toer en in die toetsreeks teen die Wallabies beteken.

Buchler het vir die destydse mynklub Simmer & Jack gespeel, en van 1949 tot 1953 48 keer vir die Rooibontes uitgedraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.