Laat die Sharks in die Kings se plek speel

Dit sal sommer baie interessant wees om te sien hoe, en of, die Sanzaar-rugbybase gaan reageer op bespiegelinge dat die Sharks hul vinne gewys het om ook in die Europese Pro14-reeks te speel.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase dreig al jare lank om hul bande met die Suidelike Halfrond te verbreek en om eerder hul gewig by die Noordelike Halfrond in te gooi.

Of ons nou daarvan hou of nie, die Superreeks is uitgedien, afgemat en kort dringend ʼn vernuwingskuur.

Toeskouergetalle kwyn toenemend, en die besluit om dit na Argentinië (Jaguares) en Japan (Sunwolves) uit te brei, het nie geslaag nie, en ook nie om die Superreeks van 18 spanne na 15 te verklein nie.

Vergeet daarvan om dit te probeer versuiker om wedstryde in Singapoer en Hongkong te speel – dit kan nie meer die bloeding keer nie.

Dit het afgesaag geraak om sedert 1996 elke jaar in Nieu-Seeland en Australië te toer, om in dieselfde stede, dorpe en hotelle tuis te gaan. En teen dieselfde spanne te speel.

Ook om elke jaar twee keer teen die All Blacks en Wallabies te speel.

Dis hartseer, maar gee iemand nog werklik om wie sal tweede ná die All Blacks eindig?

Dis geen geheim nie dat Jurie Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), ʼn groot voorstander daarvan is om nouer bande met die Noordelike Halfrond te smee. Hy het nou die ideale vennoot in Rassie Erasmus, wat verlede week saam met Roux tot die uitvoerende bestuur van die Pro14-direksie verkies is.

Erasmus dra in hierdie geval seker Saru se hoed as direkteur van afrigting, want, volgens my mening, dit sal ʼn geval van botsende belange wees indien die Springbokafrigter in die Pro14-direksie dien. Wat dan van ander nasionale afrigters soos Warren Gatland (Wallis), Joe Schmidt (Ierland), Gregor Townsend (Skotland) en Conor O’Shea (Italië)?

Nietemin, die saadjie van Suid-Afrikaanse deelname is geplant met die Cheetahs en Southern Kings se insluiting in die Pro14-reeks. Die Cheetahs het wortelgeskiet, maar daar sal vinnig en drasties planne met die Kings beraam moet word.

Is dit nie dalk nou die ideale geleentheid om eerder die Sharks in die Kings se plek te laat speel nie?

Ja, dit kan tot hofsake lei, want Sanzaar sal nie daarmee gediend wees nie.

Maar wat gaan hulle anders doen om die Superreeks te laat herleef?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wessie ·

Ek stem. Los die Sharks waar hulle is…ek verstaan hulle gaan voortaan as ‘n familiebesigheid bedryf word.

rollie ·

Ek wonder of die skrywer reken dat die toeskouergetalle in SA beter sal wees as ons spanne in die Pro 14 speel? Die gehalte sal oor die algemeen swakker wees sonder deelname van NZ-spanne.

Frans C ·

Niemand het gekla toe die Bulle die beker drie keer gewen het nie.Toeskouer getalle daal
omdat ons spanne nie wen nie.En ons wen nie omdat elke haan baas op sy eie mishoop wil wees.

G@be ·

Ek is jammer maar die idee gaan nie ons rugby verbeter nie maar verswak… in MY opinie
Jy MOET jouself teen die BESTE meet waar jy kan. en dit is NZ
Ja ek stem 100% saam dat die formaat van super rugby tans nie werk nie omdat geld HARDer praat.
Die beste is 15 spanne. elkeen speen elkeen met die tuis velde wat elke seisoen verander.

Neels ·

Nee wat Pieter , ek dink jy sit die pot ver mis. Ek het nog die Cheetahs en Kings met die Superwedstryde gekyk , maar met die Pro 14 reeks nog nie eers in een wedstryd belang gestel om te kyk nie. Wat weet Jurie Roux in elk geval van rugby af. Ons moet ons probleme met toeskouer getalle by ons self gaan soek en nie by die tipe reeks nie. Sal graag wil weet of daar meer toeskouers by Pro 14 cheetah rugby was as by hulle superwedstryde.

Nico K ·

Pieter ek verstaan glad nie jou berig nie. Jy het dan aanmekaar gekla dat dit ‘n fout was toe die Cheetahs in die Pro 14 reeks gaan speel het. Nou wil jy hê die Sharks moet ook daar gaan speel. En as jy sê die Superreeks raak uitgedien. Jy bedoel nou soos die Curriebeker ook na 100 jaar uitgedien geraak het? Dit was tog ook maar jaar vir jaar die WP, Bulle, Leeus of Haaie. Geen afwisseling. Ek persoonlik dink die Curriebeker het interessant gebly deur al die dekades. Dit was juis deur die reeks aanmekaar te verander wat die reeks die laaste jare sy aansien verloor het.

Bloubull bl!#$em ·

Nee wat Peter. Dis seker die Swakste voorstel van jou in n lang tyd! Baie min mense kyk na die Pro 14. Die gehalte rugby en kwaliteit spelers kan nie vergelyk word met super rugby nie. Jys maar net suur oor die Bulls julle gekarnuffel het. Hie hie

Johan ·

Sulke oningeligte berigte kan rugby liefhebbers retig sonder doen.
Ja, verbeter ons spelpeil en kyk in die moderne tyd ook na kykergetalle op die elektroniese media – die fout lê by die pryse van kaartjies en die algemene uitbuiting van die kykerspubliek.
Hoeveel van ons betaal nie met liefde DSTV se fooi net sodat ons rugby kan kyk nie?

Haat superrugby ·

Super rugby is swakker as die ou sportpienaar reeks Go All Blacks

Callie ·

Kry SA spanne op standaard. Wat het rugby groot gemaak in die ou Curriebeker en begin van Super rugby. Die groot moontlikheid dat jou span die beker gaan wen. Nou weet ons Sa span gaan sukkel om n game te wen. Mense gaan kyk en ondersteun nie n verloorspan nie. So stop kwotas, begin wen en mense stroom paviljoene toe. Jammer, dit is die enigste manier. Net een verandering gan help. Begin wen

Frans C ·

Die Sharks en Stormers het grootskaalse aankope gedoen ten koste van ander spanne,maar vaar op die oomblik die swakste.Dit bewys maar weereens dat van ons afrigters,oud Springbokke of te not ,nie altyd die beste afrigters is nie.
John Mitchell kry tans iets by die Bulls reg ,wat geen ander afrigter in jare kon regkry nie.

Nico ·

Maak die CB weer die alles van ons rugby. Skrap die 3 nasie en ”super” reeks en begin weer toere. Dit was die hartslag en behoud asook die werklike ontwikkeling van ons rugby. Ja ook by besoekende toerspanne. Hoeveel weekdag spelers het nie groot spelers geword nie deur ontwikkeling op toere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.