Laat fout(e) beslis wipplankstryd in Sydney

Dit was ʼn geval van een vir jou en een vir my in Sydney in die Superwedstryd tussen die Waratahs en die Stormers.

Die Waratahs het die opwindende maar nie altyd baie goeie wedstryd nie ná die 80ste minuut met ʼn drie 34-27 gewen nadat die Stormers se plaasvervangerhaker, Dean Muir, oor die lynstaan gegooi en Raymond Rhule die driedrukker Ned Hanigan misgetêkkel het.

Die wedstryd is voorlangs deur die Stormers beheer wat veral in die skrums uitstekend was. Agterlangs het daar weinig aan die Kapenaars se kant aangegaan en agterlynbewegings was daar nie.

Die Waratahs, daarenteen, het die bal gereeld wyd gespeel en met manne soos Kurtley Beale en Issy Folau moes die Stormers dikwels bontstaan. Hulle het dan ook  die bal meer as twee keer so ver as die Stormers gedra maar moontlike driedruk-geleenthede te dikwels laat verlore gaan.

Die Stormers was net een keer in die wipplankwedstryd voor nadat Steven Kitshoff, wat uitmuntend in die vastelos was, gaan druk het. Vanaf 10-elk het die spanne om die beurt aangeteken met die Stormers wat telkens moes inhaal om gelyk te trek.

Die Waratahs het in die tweede helfte feitlik 70 persent gebiedsvoordeel en ook die grootste aandeel van die besit gehad. Albei spanne het te dikwels die bal omgekeer en daar was, met voordeel wat toegelaat is en nie as hanteerfoute aangeteken word nie, meer as 30 hanteerfoute deur die twee spanne.

Daar is heelwat positiewes wat die Stormers uit die wedstryd kan neem, maar meer geleenthede sal vir die druk van drieë geskep en ook dan benut moet word. En eienaardige besluitneming deur spelers en ook met die opstuur van plaasvervangers het ongetwyfeld ‘n rol in die uitslag gespeel.

Puntemakers –

Waratahs: Drieë (17) 34: Israel Folau, Michael Hooper, Damien Fitzpatrick, Ned Hanigan. Doelskoppe: Bernard Foley 4. Strafdoele: Bernard Foley 4.
Stormers: Drieë (17) 34: Steven Kitshoff, Kobus van Dyk, SP Marais. Doelskoppe: SP Marais 4. Strafdoel: Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico ·

Die sogenaamde impak speler bly die grootste klug in rugby wat baie meer kere goeie ritme versteur as wat dit iets gieds doen. ‘n Span moet gekies word om 80min te kan speel. As impak spelers vars bene moet wees beteken dit die spelers is NIE fiks nie.

Pieter ·

En daar wen Raymond Rhule se verdediging die game….. vir die Warratahs

Frans C ·

Met die wedstryd gelykop en verby, wat besiel ‘n haker om ‘n lang ingooi oor die lynstaan te waag?

Was dit die Kaptein se opdrag of was hy onder soveel druk dat hy kop verloor het?Impakspelers is veronderstel om ‘n impak te maak maar hul het nie.Hugh Jones ,toetsspeler van Skotland se afwesigheid het ‘n groot leemte gelaat in die Stormers se agterlyn.

Dit laat my dink dat dit nie ‘n goeie ding is om sulke spelers vir ‘n kort tydperk te kontrakteer ten koste van die ontwikkelling van plaaslike spelers.

Soos die Crusaders speel wag daar ‘n groot pak slae op die Stormers as hul nie drasties agterlangs verbeter nie.

PieterF ·

Die Stormers het en sal nooit die wenner van enige rugbykompetie buiten miskien die CB wees nie. Geheueverlies slaan toe sodra dit begin deurdring dat ‘n wedstryd, veral op toer, gewen kan word. Veral die twee hakers was pateties verby. Hulle sou nie gou weer in ‘n Doc Craven-span op die veld (as spelers) gedraf het nie. Die 2 talentgestremdes sal egter keer op keer gekies word. My seuns en ek bedank derhalwe na baie jare van hoop op beterskap as ondersteuners van ons geliefde Streeptruie/Stormers. Mag Saterdag se geploeter verder vervolmaak word en vir julle vreugde gee.

Lol ·

As Eddie Jones maar net een seisoen die Stormers kon afrig; nou sit hulle opgeskeep met loskop Robbie Fleck.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.