Laat vlug, gestrande span vertroebel eindstryd

DuRandt Gerber – 15 punte. (Foto: Twitter)

ʼn Laat vlug en spelers wat op ʼn lughawe gestrand was, het ʼn span met sterk Suid-Afrikaanse bande se kans in die eindstryd van die Wes-Asiatiese Klubampioenskap erg beduiwel.

Dubai Exiles, wat deur Jacques Benadé, ʼn gewese Super 12-speler van die Noorder-Bulle en die Sharks, afgerig word, het die wegstryd teen Bahrein in Saar met 25-47 verloor.

Luidens berigte het die wedstryd ʼn uur laat begin nadat die Exiles se vlug vertraag is, en die spelers aanvanklik op die lughawe in Muharraq, amper 30 km van die speelveld af, gestrand was.

Asof dit nie genoeg was nie dat die span reeds weens beserings, skorsings, die skoolvakansie en visumkwessies die eindstryd sonder verskeie uitblinkers moes aandurf.

Die Exiles het aanvanklik gesukkel om op dreef te kom, maar het teruggeveg en was 20 minute voor die einde slegs met ʼn punt agter (25-26), voor Bahrein drie drieë binne ses minute gedruk het om die spyker in die doodkis te slaan.

DuRandt Gerber, wat Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel het, se normaalweg betroubare korrel pale toe het blykbaar in die slag gebly, maar hy het steeds 15 van die Exiles se punte met ʼn drie, twee doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Nóg ʼn man wat op sy dag Curriebekerrugby gespeel het, Gio Fourie, wat vir die destydse Magtige Olifante (die Oostelike Provinsie) uitgedraf het, het twee drieë vir Benadé se span gedruk. Weens die baie onttrekkings moes hy, eintlik ʼn haker, dié slag flank speel.

Fourie het ook twee drieë in die halfeindstryd gedruk wat die Exiles met 28-20 teen Jebel Ali Dragons gewen het, en Gerber het 13 punte met skoppe behaal.

Jaen Botes, ʼn ervare toetsspeler van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), het die Exiles se ander halfeinddrie gedruk.

Hy het die eindstryd misgeloop nadat hy twee geel kaarte in die halfeindstryd ontvang het, en dit gevolglik in ʼn rooie omgeskakel is.

Botes het in 2004 as 15-jarige na die VAE geëmigreer.

Die Exiles het ook deurgedring tot die eindronde van die VAE se Premierliga wat nog voor lê, en waarin die klub teen die verdedigende kampioen, Abu Dhabi Harlequins, te staan kom.

Benadé se span het in 2015-2016 albei reekse gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.