Laerskoolkind in Australië verbied om rugby te speel weens grootte

Leonidus Hinekiteao in trane nadat hy hoor hy nie verder kan speel nie. Foto: Facebook.

’n Ontstoke ouer van Australië het haar tot sosiale media gewend nadat haar seun net vóór afskoptyd in ’n sewesrugbywedstryd verbied is om te speel omdat hy as te groot vir sy ouderdomsgroep geklassifiseer is.

Ayla Hinekiteao het op Facebook geskryf dat haar seun, die 11-jarige Leonidus, gevra is om nie verder aan ’n sewestoernooi deel te neem nie. Dit was in die vyfde week van die toernooi.

“Ek is jammer dat ek dít op sosiale media plaas, Leo. Maar op die ou einde is jy steeds ’n 11-jarige kind wat huil omdat jy nie verstaan waarom jy nie mag speel nie,” het die veglustige Hinekiteao geskryf.

Volgens Hinekiteao het ’n Waratahs-beampte hulle genader en gesê dat “daardie groot kind nie meer mag speel nie”.

Hoewel Leonidus geregistreer is om vir die o.12’s te speel (daar is al in ’n vorige kragmeting beswaar oor sy grootte aangeteken), het hy al verskeie wedstryde in sy eie ouderdomsgroep (o.11) gespeel.

“Ja, hy het ’n groter lyf, maar dít is vyftienmanrugby en nie raakrugby nie! Daar was geen o.12-kompetisie in die toernooi nie en ons klub het nooit ’n o.13-span geregistreer nie. Verstandelik is hy 11 jaar oud en nie 15 nie.

“Tog besef hy hoe sterk hy is en hy weet hoe om dié krag oordeelkundig teen groot óf klein kinders te gebruik. Wanneer hy wedstryde teen kleiner spanne speel, is hy byvoorbeeld nie so aggressief soos wanneer hy teen kinders van sy eie grootte speel nie.”

In ’n verklaring het die New South Wales-rugbyunie gesê die besluit is in ooreenstemming met Rugby Australië se beleid.

“Hoewel dit nie die unie se bedoeling is om enige speler te verhoed om rugby te speel nie, is die betrokke speler al vantevore geassesseer en daar is bevind dat hy weens sy grootte in ’n ouer ouderdomsgroep moet speel,” het die verklaring gelui.

“Ondanks verskeie probeerslae om met die betrokke persone in verbinding te kom, was dit nodig om by die toernooi persoonlik met hulle te praat.”

Hulle erken egter dat dié manier van dinge doen ’n negatiewe uitwerking op die speler en sy spanmaats gehad het.

In die daaropvolgende wedstryd het die hele span saam met Leonidus van die veld gestap.

“Ek is baie lief vir jou, Leo. Jy is ’n wonderlike rugbyspeler en selfs ’n beter mens; daar wag ongelooflike geleenthede op jou in die toekoms. Australië gaan homself skop wanneer jy teen hulle in ’n All Blacks-trui speel,” het Hinekiteao afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Niemand ·

Maar dis ok as ‘n man teen vrouens handball speel… Vir Aus nasionale span nogals… Sirkus!

Wenner ·

Hiehie, hy gaan die Australianers eendag lelik op hul neuse laat kyk ????????????

Boer-in-die-Wind ·

Arme kind.
Maar ons verstaan, hier by ons word meriete kinders ook benadeel / uitgelaat om aan die kwota vereistes te voldoen.

Schalla ·

Hoe oud is die kind. Is hy nou 11 jaar oud of is hy 15 jaar oud?

Peter ·

Dis maklik eks seker die 15 of 16 jariges in jou wieght class sal nie omgee dat jy saam met hulle wil speel nie. Of is dit die doel dat ons 15 ander moet martel.om net nie een se gevoelens seer te maak te.

Mikefg ·

Skole rugby was nog altyd volgens ouderdom nie gewigs klas soos bv stoei nie.

Anoniem ·

Dis die regte besluit….in belang van die kind ….op die lang termyn.

MARIAAN ·

Dis niks lekker nie. My seun kon sy hele Laerskool nie rugby speel nie, altyd langs die veld gesit en hoopvol gewag vir ‘n beurt – OMDAT HY TE KLEIN WAS!! Maar hoërskool werk dit darem anders. Hyt sy beurt gekry en bewys dat hy ‘n yster is op die veld. Die wag is lank, die outjie sal een of ander tyd sy beurt kry en dan sal hy almal wys.

Niklaas ·

As hy op 11 jaar al so groot lyk , wil ek hom graag sien as 18 jarige. Hy sal dan seker lyk soos Jonah Lomu.

dezi ·

Sjoe maar hier is ‘n paar mense wat wys hulle het nie veel tussen die ORE nie?!!! Wraggies, hy is ‘n kind van 11 jaar oud, nou wraggies nie sy skuld hy is so groot nie, en van wanneer af is kinders sulke sussies?? In die ou dae het hulle gespeel teen wie hulle gegee is om te speel, en glo my dit het nie saak gemaak hoe klein, groot. vet of maer die persoon is nie, jy het maar gespeel!!!! Ek voel jammer vir die kind, en die mense hier met NIKS TUSSEN DIE ORE!

Nouja ·

Ek stem saam met rugby unie in die sin om hom nie in sy ouderdomsgroep te laat speel nie maar hul kon hom akkommodeer in groter ouderdomsgroep. Hoekom stem ek saam? Vir afgelope 2 jaar doen ek navorsing oor harsingskuddig en dit is onrusbarend om die nagevolge van so n kind te aanskou en die lang herstelpad. Dink daar is nou baie nuwe reels in plek om dit te voorkom en ek dink hierdie beslissing is ook deel daarvan. Hy sal wel sy geleentheid in die sport kry as hy bietjie ouer is.

Francois ·

Hulle het redes hoekom n kind van sy lyfsbou nie in n ouderdoms groep laat speel nie. Hulle benadeel nie die kind nie hulle speel hom teen kinders sy “level” om dinge regverdig te hou. Ek dink die manier wat dinge hanteer was, nie reg is nie. Maar as hulle hom toelaat om teen ouer kinders te speel verbeter hy sy spel en tegniek. So hy sal n beter speler word en meer reg kry reen ouer kinders wat hom dan kan n “go” gee. Sy ouderdom tel dan in sy guns want hyt meer en beter ondervinding en kan n langer meer suksesvolle loop baan hé..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.