Lambie na agt weke weer in Sharks se groep

Pat Lambie – terug in die Sharks se wedstrydgroep (Foto Facebook)

Die terugkeer van Pat Lambie na die Sharks se bank vir Saterdag se wedstryd teen die Force in Durban is straks groter nuus as die beserings wat die Stormers se Springbokslotte die naweek van die veld hou.

Lambie is in die derde ronde op 11 Maart teen die Waratahs met ʼn gekraakte werwel van die veld nadat hy verlede jaar ook die grootste deel van die Superseisoen met ʼn skouerbesering misgeloop het.

Dit was die soveelste besering van die Springbok waarvan die meerderheid aan ongelukkige beserings toegeskryf kan word, soos ʼn gebreekte vinger, ʼn sny aan die kop na ʼn elmboogstamp tydens ʼn Bokoefening en harsingskudding – een keer baie ernstig.

Die Sharks se afrigter, Robert du Preez, het ook twee veranderinge op vleuel gemaak waar Kobus van Wyk en die opwindende Sbu Nkosi in die plekke van onderskeidelik Odwa Ndungane en Lwazi Mvovo speel.

Die twee Oosthuizens, Etienne op slot en die vaskopstut Coenie, begin hierdie keer. Hulle het verlede week ʼn groot impak gehad toe hulle teen die Jaguares op die veld gekom het. Dit is nie vergesog om te sê dat hulle bydraes in die tweede helfte die Sharks gehelp het om hul neuse voor te kry nie.

Michael Claassens, 34, se oordeel en beter taktiese spel gee hom weer die beginplek op skrumskakel met Cobus Reinach wat op die bank is.

Sharks –

Rhyno Smith, Kobus van Wyk, Lukhanyo Am, Jeremy Ward, Sbu Nkosi, Curwin Bosch, Michael Claassens, Daniel du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt (kapt.), Ruan Botha, Etienne Oosthuizen, Coenie Oosthuizen, Chiliboy Ralepelle, Thomas du Toit. Bank: Franco Marais, Beast Mtawarira, Lourens Adriaanse, Stephan Lewies, Tera Mtembu, Cobus Reinach, Patrick Lambie, Johan Deysel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.