Lambie terug; Sharks en WP bly op koers

currie cup logo 2016.jpgDie twee Curriebekerwedstryde Saterdagmiddag het die Sharks en die Westelike Provinsie boontoe sien beur op die puntelys, met eersgenoemde wat nou in tweede plek is en die WP wat bo die Goue Leeus ingeskuif het.

In Durban het die Sharks, in gietende reën wat die water laat spat het wanneer die spelers hardloop, die OP Kings 53-0 geklop.

Op Nuweland het die WP gesukkel om die Pumas 31-23 onder te kry. Die Kapenaars se lot is nou weer in hul eie hande in die stryd om die uitspeelrondes te haal.

♦  Die Sharks is met 25 ligapunte  saam met die Blou Bulle vier ligapunte agter die Vrystaat Cheetahs wat egter nog twee wedstryde oor het teenoor hulle een elk. Die Sharks se groot oorwinning het hulle egter met ʼn beter punteverskil bo die Bulle sien inskuif.

Die goeie en grootste nuus uit die wedstryd in Durban is die terugkeer van Pat Lambie wat op 11 Junie ernstige konkussie opgedoen het en nou eers die groen lig gekry het om te speel. Hy was 36 minute lank op die veld in ʼn wedstryd waar die Sharks volpunte moet kry dat hulle in die omstandighede nege drieë kon druk.

Dis is gedoen met die bal wat deur die grotes opgedra is, en redelike hanteerwerk onder die haglike omstandighede. Die OP was net eenvoudig voorlangs nie bestand teen die tuisspan se strategie van dryf en maal nie.

♦  Op Nuweland moes die WP werklik hard werk teen die Pumas wat hulle meer as net besig gehou het. Die Streeptruie moes in hierdie en dan ook in hul laaste twee wedstryde bonuspunte saam met hulle oorwinnings verdien.

Hulle het Saterdag teen die Pumas – wat tot dusver al ses hul wedstryde in die reeks verloor het – tot die 56ste minuut vir hulle tweede drie moes wag en het eers na 68 minute die bonuspuntdrie gedruk.

Dit was ʼn onoortuigende oorwinning en die WP sal veel beter as dit moet speel as hy drome droom dat hy die titel gaan wen. Daar was ʼn algehele gebrek aan ritme, wat nie makliker gemaak is deur die 18 strafskoppe wat die Pumas afgestaan het om die puntetelling teen hulle te probeer laag hou nie.

Daar was net sowat ʼn kwartier dat die tuisspan gelyk het of hulle speel soos hulle wou. In dié tydperk, aangevuur deur ʼn skitterende poging deur Huw Jones, het hulle drie van hulle vier drieë gaan druk.

Puntemakers –

Sharks (24) 53: Drieë: André Esterhuizen, Chiliboy Ralepelle, Jean-Luc du Preez, Inny Radebe, Michael Claassens, Francois Kleynhans, Etienne Oosthuizen, Wandile Mjekevu, Khaya Majola.  Doelskoppe: Curwin Bosch 2, Pat Lambie 2
OP Kings: 0

Westelike Provinsie (10) 31: Drieë: Werner Kok, Huw Jones, Leolin Zas, Jan de Klerk. Doelskoppe: Robert du Preez 4. Strafdoel: Du Preez.
Pumas (6) 23: Drieë: JP Lewis, Tyler Fisher, Renaldo Bothma. Doelskop: Devon Williams. Strafdoel: Francois Brummer. Skepdoel: Brummer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reg ·

Go sharks. Ek glo julle kan nog beter.
Welkom terug Pat. Jy sal die die siekundige oorlog wen en weer jouself wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.