Langste liga ná uitgerekte dispuut afgehandel

Die langste liga in die geskiedenis van Europese rugby, danksy ʼn uitgerekte dispuut, is uiteindelik Saterdag afgehandel – hopelik, ja.

Die span wat aanvanklik die Portugese senior liga in die raadsaal gewen het, het dit op die ou end darem ook op die veld reggekry.

Belenenses, wat die beker moes teruggee nadat dit reeds aan hom oorhandig is, het Agronomia in Oeiras met 17-9 geklop in die eindstryd, byna vyf maande ná die halfeindronde beslis is.

Dit het net ʼn week minder as ʼn jaar geduur om die liga te voltooi, wat op 29 September 2017 afgeskop het.

Die halfeindstryd tussen Agronomia en Direito op 28 April vanjaar, is – ná verskeie voorvalle – 10 minute voor die bepaalde tyd gestaak, toe sake handuit geruk het. Selfs die beamptes en toeskouers het op daardie tydstip handgemeen geraak.

Agronomia was met 15-12 voor.

ʼn Tugkomitee van die Portugese Rugbyfederasie (FPR) het 11 spelers en beamptes van die twee spanne geskors, en albei klubs, sonder promosiekans vir vyf jaar, tot die derde liga afgeskuif.

Belenenses, wat die ander halfeindstryd gewen het, is as die ligawenner verklaar, en het die beker ontvang.

Direito het egter appèl teen die beslissing aangeteken, en dit is gehandhaaf.

Die tugkomitee se beslissing en die strawwe is tersyde gestel, en Agronima se oorwinning bevestig. Belenenses moes die beker teruggee, en opnuut daarvoor speel.

Uit protes hierteen het die hele tugkomitee bedank.

ʼn Onderliggende probleem was dat die Portugese skeidsregters destyds oor ʼn geldgeskil gestaak het, en die blaser wat die wedstryd hanteer het nie opgewasse vir die taak was nie.

Die FPR is eweneens skerp gekritiseer dat die straf buite verhouding kwaai was, en dat dit nadelig vir die nasionale span sou wees as die twee sterkste klubs, met verskeie toetsspelers in hul geledere, in die derde liga moes speel.

♦ As uitvloeisel van nóg ʼn administratiewe fiasko, speel Portugal se nasionale span vroeg November teen Roemenië in ʼn promosie-relegasiewedstryd in Rugby Europa (RE) se reekse.

Die Roemene het aanvanklik die RE-kampioenskap (die tweede vlak ná die Sesnasies-reeks) gewen, maar moes ligapunte inboet omdat hy ʼn ongemagtigde speler gebruik het, en het gevolglik laaste geëindig.

Portugal het die RE-trofee (derde vlak) gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.