Leer ons dan nooit nie?

new_zealand_all_blacks[1]Hoekom, word daar gevra, is Nieu-Seeland Suid-Afrika op die rugbyveld ver vooruit?

Dit is omdat hulle ʼn sentrale doelwit het, om op alle vlakke die beste en mees talentvolle spelers te ontwikkel, om bo-aan die rangorde te bly.

Meestal kry hulle dit reg, maar soms ook nie, soos die Kiwi’s se sewesspan op vanjaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, en soos die o.21-span by die Junior Wêreldbekertoernooi.

Maar hoe kry hulle dit reg? Omdat hulle hul huiswerk behoorlik doen, hul spelers en afrigters op alle vlakke ontwikkel word, die spanne meestal dieselfde patroon volg  en daar geen politieke  inmengery is nie.

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het Woensdag die ses franchise-groepe vir aanstaande jaar se Superrugby-reeks bekend gemaak, byna vier maande voordat die reeks in 2017 begin.

Altesame 190 spelers is betrek, waarvan 33 nuwelinge is. Agt Nieu-Seelanders wat die land by die Junior Wêreldbekertoernooi verteenwoordig het, is in die groepe.

Ja, daar is ʼn hele paar spelers wat hul loopbane in Frankryk, Japan, Ierland en Engeland voortsit, soos Liam Messam, Andy Ellis, Johnny McNicholl, Victor Vito, Robbie Freuan en Nemani Nadolo. Maar dit gaan nie oor hulle nie.

Deur vroeg dinge agtermekaar te kry, skep kontinuïteit, en dit beteken dat die spelers nou al kan begin oefen om slaggereed te wees wanneer die Superreeks aanstaande jaar in Februarie afskop.

Daar is twee “nuwe”  afrigters, Scott Robertson, wat die leisels by Todd Blackadder by die Crusaders neem en Tony Brown, wat Jamie Joseph by die Highlanders vervang.

Robertson en Brown is albei as speler en afrigter deur die meule. Hulle het tuis en oorsee gespeel en afgerig, en hulle weet presies wat die All Blacks wil bereik en kan so gou moontlik en soomloos inval.

En ons? Weet ons wat aanstaande seisoen by die Southern Kings sal gebeur?  Wie sal hulle afrig, watter spelers sal daarheen gelok word?

Dawie Theron het maande gelede as afrigter van die Junior Bokke bedank. Wanneer word by vervang, want die loting vir aanstaande jaar se toernooi is reeds gedoen? Wil ons dieselfde paadjie stap as met Allister Coetzee se aanstelling?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Callie van der Merwe ·

Ons weet al hierdie dinge, die probleem is die klappedoppe wat ons rugby bestuur! Geen plan of visie vir SA rugby nie. En as hulle in hul onkunde n besluit neem dan is dit bykans elke keer lagwekkend! Kyk die benadering vir die toer wat voorlê in die noordelike halfrond. Twee spanne terwyl ons op die stadium nie eers een oordentlike span het nie! Kyk na die aankondiging oor hoe ons die spel patroon sien vir die toer. Nee ek is bevrees hoe seer ookal ons geliefde sport is besig om dood te gaan. Maar dis wat die manne daar bo wil hê. Verwoes dit wat dierbaar is vir ons volkie!

At Bezuidenhoudt ·

Die oorsake waarom SA Rugby so in chaos is word die spyker in hierdie berig so presies op die kop geslaan. Ons hou n groot rugby indaba en se al die dinge wat in hierdie berig aangespreek word, maar niemand bring dit tot uitvoer nie! As ek nou weer na die afgelope verkiesing van ampsdraers kyk, lyk dit vir my dat daar net een ding is wat belangrik is en dit is hoe hoog die posisie kan wees wat jy beklee en wat is die vetkat vergoedigspakket wat daarmee saamgaan. Dit gaan lankal nie meer oor die behoud en opbou van SA Rugby nie!

Jan ·

SA rugby publiek weet dit lankal, dis die afrigters ens. In SA wat dit nie weet nie. Want hulle weet nie wat hulle nie weet nie

Frans C ·

Daar kan nie eers ooreengekom word wat die beste spelers is en watter rugbypatroon gevolg moet word.Jammer maar Coetzee lyk vir my totaal verlore want hy kies 30 spelers om teen die Barbarians te speel waarvan 7 nie kan speel nie.

johann ·

Solank as wat politiek in ons rugby ‘n rol speel en daai water koppe wat tans in beheer is sal en gaan ons die laughing stock van wereld rugby word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.