Leerballe, tokse en rugbytruie

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Om ʼn drie te druk in rugby is ʼn hemelse belewenis, veral jou eerste een.

Jy kon die aand nie slaap nie, jy het gelê en rondrol en wanneer jy jou krakerige transistorradio langs jou bed (wat altyd op LM-radio ingeskakel was met ʼn draadhanger as antenna) afgeskakel het (want dit trek onnodig krag, het pa altyd gesê), het jy nog daaroor gedroom.

Wat van die dag toe jy jou eerste rugbybal gekry het? Myne was ʼn Springbok-leerbal met nate.

Die eerste keer toe ons dryfinkies gespeel en die bal ʼn skraap of twee opgedoen het, wou my hart breek en het ek die skrape die aand probeer wegpoleer met dubbin of ligbruin skoenpolitoer.

Jou eerste paar tokse was ook hemels.

Ek het my pa se paar gans te groot Okey Geffin-rugbyskoene as tjokker gedra en gedroom van die dag wanneer ek my eerste paar sou kry.

Sy swaar leertokse met hoë beskerming vir die enkels was pikswart, die dik skoenveters spierwit, die toon rond en kliphard en vier van my voete kon daarin pas.

My eerste paar tokse het sagte tone gehad, die veters pikswart en daar was drie oranje strepe langs die kante.

“My kind, wat van jou enkels, en hoe gaan jy pale toe skop?” het pa gevra.

Dit was dieselfde gevoel met daardie eerste rugbytrui. Ek het daarin geslaap en kon nie wag dat dit lig moes word sodat ek dit amptelik oor my kop kon trek nie.

As jy jare later dalk bevoorreg was om met ʼn wit eerstespantrui beloon te word, kon die wêreld maar stilgestaan het, jou dag was volmaak, jou kringloop was voltooi.

Dis hoekom die tradisie van rugby soos die uitdeel van Springboktruie nooit verlore moet gaan nie, want ek kan my indink hoe die spelers moet voel wanneer hulle die eerste keer die Groen-en-goud ontvang. Die goue kraag, die geborduurde springbokkie, die nommer agterop die rug.

Dis dinge wat nooit sal verander nie, wat geld en kontrakte nooit sal kan koop nie en wat nie deur ʼn gevreesde griepvirus ondergekry sal word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Sjoe!!,dit klink vreeslik bekend asof ek dit self geskryf het en dit wys net hoe ons grootgeword het met waardes,drome vir die toekoms en liefde vir die sport

Raadslid

Hoe kan ons so ligsinnig oor die hemel wees?