Leeus begin toer met onoortuigende oorwinning

Die Plattelandse Barbarians het soos tiere verdedig. (Foto twitter @lionstour)

Die Britse en Ierse Leeus het hulle eerste wedstryd teen die Provinsiale Barbarians in Whangarei  met 13-6 gewen, maar dit was Saterdagaand eerder die tuisspan as die Leeus wat breëbors geloop het.

Ja, die Leeus het drie dae gelede eers in Nieu-Seeland aangekom.  En ja, hulle het nog nie behoorlik saamgeoefen of -gespeel nie.

Dieselfde geld egter vir die tuisspan, saamgestel uit ʼn klomp spelers wat as “semi-professioneel” geklassifiseer word. Hulle het darem drie dae ekstra oefentyd gehad. In hulle span was daar onder meer ʼn vrugteplukker, ʼn winkelier, skaapboer en verpleër

Die Leeus het ʼn lekker losmaker verwag, maar die tuisspan het soos tiere verdedig, in die eerste helfte die meeste en beste rugby gespeel, en soos die Barbarians wat in hulle naam vervat is, met omtrent alles gehardloop.

Tot teen die einde was die moontlikheid daar dat die Leeus slegs die vierde keer in hulle roemryke geskiedenis ʼn eerste toerwedstryd sou verloor.

Samespel was nie waffers nie, soos verwag kon word; die skrums was maar so-so en hulle het net twee of drie keer die oorhand gehad. Die dissipline was swak en hulle is dikwels deur Angus Frazer gestraf; en die ding wat seker die meeste fronse van die Leeusafrigter Warren Gatland sou ontlok het, was hulle onvermoë gewees om talle geleenthede in punte te omskep.

Daar was ook die indruk dat die stadige velde van die Noordelike Halfrond veroorsaak het dat die vaart van die tuisspan en die manier waarop hulle alles in volle vaart gedoen het, die toerspan effens gepla het.

Nadat hulle rustyd met 3-7 agter was, het die Leeus in die 43ste minuut met ʼn tweede strafdoel nadergekruip, maar dit was 52 minute voordat die vleuel Anthony Watson hul eerste toerdrie en die enigste van die wedstryd gaan druk het wat deur Owen Farrell verdoel is.

Gatland se grootste (en waarskynlik enigste!) vreugde in die wedstryd sou die vertoning van sy 22-jarige seun Bryn vir die tuisspan gewees het. Hy is ʼn vernuftige losskakel en gaan veel meer as net vier Superwedstryde speel nadat hy sy debuut in April gemaak het.

Dit gaan nie makliker word nie. Woensdag speel die Leeus in Edenpark teen die Blues en Saterdag kom hulle teen die Crusaders te staan.

Puntemakers –

Provinsiale Barbarians (7) 7Drie: Sam Anderson-Heather. Doelskop: Bryn Gatland.
Leeus 13 (3) 13Drie: Anthony Watson. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Jonathan Sexton, Greig Laidlaw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.