Leeus beklink plek in halfeind na rustyd

currie cup logo 2016.jpgDie cliché van ʼn wedstryd van twee helftes was inderwaarheid by Ellispark van toepassing toe die Goue Leeus die Sharks Vrydagaand 28-16 geklop en hulle plek in die Curriebeker se halfeind verseker het.

Die eerste helfte het aan die Sharks behoort. Hulle het die Leeus op een van hulle sterkpunte, die skrums, aangevat en heeltemal daar oorheers. In die los was hulle ook baas met gereelde omkeerbesit wat die Leeus verhoed het om ritme te kry.

Trouens, die Leeus, wat vir Ruan Ackermann in JP du Preez se plek slot toe geskuif het en ook ʼn verstelling aan hulle agterlyn moes maak toe Jacques Nel in die plek van Koch Marx vleuel toe geskuif het en Howard Mnisi in die ongewone posisie as buitesenter moes diens doen, het in die helfte so iets tussen verlore en onseker gelyk.

Hier en daar was daar flitse van waartoe hulle in staat is, maar die Sharks was die ongetwyfelde beste span. Rustyd was dit 10-0 en die Leeus se ondersteuners tjoepstil.

Maar Johan Ackermann-hulle se gepraat het ʼn anderste span na rustyd op die veld sien draf. Skielik was die vertroue terug, het hulle binnetoe-aangeë sonder om te kyk gewerk, was die ondersteuning daar toe dit saak gemaak het, en is veral beter geskrum en self talle balle omgekeer.

Hulle eerste punte het wel eers na 46 minute gekom en hulle het 17 minute  voor die einde die eerste keer voorgeloop, maar die Leeus was op die oorlogspad.

Dit was die soort rugby waarvoor die Leeus bekend en gevrees geword het, en drie drieë in die tweede helfte het hulle plek help verseker op ʼn aand waar Jaco van der Walt se skopwerk net eenvoudig nie in die kol was nie.

Die Sharks se kans om in die halfeind te speel hang daarvan af of die Boland op Nuweland teen die WP kan wen. Dis te betwyfel.

Puntemakers –

Goue Leeus (0) 28: Drieë: Kwagga Smith, Howard Mnisi, Sylvian Mahuza. Doelskoppe: Jaco van der Walt, Andries Coetzee. Strafdoele: Van der Walt, Coetzee 2.
Sharks (10) 16: Drie: Michael Claassens. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch 3.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Die Afrikaner haat van Daniels het die Sharks gesink. Of hy dit wil erken of nie, is irrelevant. Sharks baie goeie span sonder sy Afrikaner rasisme. Sy persoonlikheid kos hom moontlik plek in Bokspan,want hy is verseker beter as Louw en Oupa

jakes koster ·

Halftydtelling was 10-0. Het die verslaggewer die wedstryd gekyk?

Wim van der Berg ·

Ja, ons kyk inderdaad na al die wedstryde! Tusssen die letterlik honderde feite per dag word daar ongelukkig foute gemaak wat ons streef om te beperk. Dankie vir die reghelp!

Frans C ·

Die Sharks het die Leeus voorlangs gepak en veral die skrums oorheers wat weereen bewys dat al is jou voorry hoe goed jy nie sonder ervare no 4 en 5 slotte kan klaarkom nie.Instede om daarop voort te bou besorg swak dissipline die Sharks twee geel kaarte en plaas dit die Leeus terug in die wedstryd want hul natuurlike spel kon aan die gang kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.