Leeus bekommerd oor hul dissipline voor beslissende toets

Sean O’Brien – sy dissipline bekommer die Leeus (Twitter @lionsofficial).jpg

Terwyl die beroepswedders die Britse en Ierse Leeus net ʼn buitekans gee om Saterdag se beslissende toets te wen, en die All Blacks aangemoedig word om met meer vryheid te speel, is daar kommer by die Leeus-bestuur oor hul dissipline.

En met goeie rede. Hul dissipline het hulle so byna die tweede toets en daarmee die reeks gekos – en as Beauden Barrett drie maklike skoppe oorgeklits het om by sy sewe geslaagde pogings te voeg, was dit neusie verby vir die Leeus.

As ʼn mens in ag neem dat daar altesaam 13 strafskoppe was en dat tien daarvan pale toe gemik is (sewe suksesvol, drie mis), is dit ʼn duidelike aanduiding van hoe onder druk die Leeus was.

Dis boonop nie asof die toets in Wellington wat oortredings betref, veel verskil het van dié in die eerste toets op Edenpark nie. Dit is insiggewend – en ook verblydend – dat die twee skeidsregters se optrede teen albei die spanne se oortredings in so ʼn groot mate ooreenstem.

Volgens Walesonline het Jaco Peyper in die eerste toets die twee spanne 18 keer gestraf – die Leeus elf keer, die All Blacks sewe keer.

In die tweede toets het Jérôme Garcès 21 strafskoppe toegeken –  13 teen die Leeus en agt teen die All Blacks.

♦  Die Leeus het tot dusver veral met hulle oortredings by die afbreekpunte deurgeloop. Hulle het in die tweede toets beter gevaar as op Edenpark toe hulle net vier keer teenoor die vyf op Edenpark gestraf is – dus nege keer in die twee toetse waar daar saam 24 strafskoppe teen hulle toegeken is.

Daar is veral twee spelers wie se dissipline in die tweede toets werklike rede tot kommer is. Die stut Mako Vunipola is vier keer gestraf waarvan twee gevalle vir ongeoorloofde spel was. Een was ʼn geel kaart werd, en dit kon net sowel ʼn rooie gewees het.

Sy voortdurende stryery met die skeidsregter was ook onaanvaarbaar.

Die ander groot sondaar was die flank Sean O’Brien. Hy is ná die wedstryd vir ongeoorloofde spel uitgewys maar nie gestraf nie.

Dit is egter by die afbreekpunte, waar hy nie minder nie as vyf keer in die twee toetse gestraf is, waar hy hom beter sal moet gedra. Neem in ag dat die Leeus in die twee toetse saam net vier ander afbreek-strafskoppe afgestaan het.

Hy het duidelik geen respek vir die reëls óf die insig om by die toepassing van die skeidsregter te hou in die wedstryde getoon nie.

♦  Swak dissipline het die Leeus ook op die verdediging gekos. Hulle opskietverdediging was een van die kenmerke en ook die vernaamste suksesstories tot dusver, maar in  die twee toetse is hulle sewe keer daarvoor gestraf – drie keer deur Peyper en vier keer deur Garcès.

Hulle skrums was redelik, en hulle is Saterdag net twee keer in hierdie faset gestraf.

♦  Nog ʼn vername bron van kommer is veral die gevaarlike duikslae waar Mako Vunipola (twee keer) en Conor Murray in Wellington gestraf is en Ben Te’o in Auckland ʼn strafskop teen hom en ʼn vermaning  gekry het.

Daar was die afgelope naweek ook obstruksie deur Jac McGrath en die laat omruk van die lynstaanspeler in nadat hy die bal reeds bemeester en aan ʼn spanmaat wat aan hom bind besorg het.

♦  Walesonline wys daarop dat nie minder nie as 13 Leeus al in die twee toetse gestraf is,  waarvan George Kruis, Taulupe Faletau, Conor Murray en Maro Itoje elk twee keer saam met die reeksoortreders Vunipola en O’Brien strafskoppe teen hulle gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.