Leeus, Bulle sorg vir ʼn rugbyfees op Ellispark

Soms gaan dit maar rof … Aston Fortuin, slot van die Bulle is kop-onderstebo in die lug,, Andries Ferreira onder hom op die grond, ‘n derde slot Marvin Orie darem op sy voete en Dayan van der Westhuizen sak op die bal toe. (Foto GB Jordaan)

In ʼn wipplankwedstryd waar die verloorder baie moeilik sou kon terugveg om die Curriebeker se halfeind te haal, is skitterende rugby Saterdag op Ellispark tussen die Goue Leeus en die Blou Bulle opgedis.

Uiteindelik was dit die jong plaasvervanger-vleuel Aphiwe Dyantyi van die Leeus wat ʼn skop opgevolg het wat pragtig vir hom gespring het om te gaan druk wat die verskil gemaak het. Sy span het 36-33 gewen.

Albei spanne het die bal deurgaans lug gegee en vyf drieë gedruk. Dit was amperse Lionsrugby wat deur die Goue Leeus gespeel is. Hulle is vinnig op pad soontoe, en die Bulle ook.

Boonop was daar die een-vir-jou, een-vir-my drieë in die eerste helfte en toe die spanning hier na die einde toe.

Warwick Gelant, Rohan Janse van Rensburg, Manie Libbok, Duncan Matthews, Dyantyi, twee stelle goeie, sterk voorspelers met Kwagga Smith se omkeervermoë by die afbreekpunte wat uitgestaan het, die goeie losspel van die Bulle-slot Ruben van Heerden …

Lekker, sommer baie lekker, op ʼn dag waar ʼn mens graag goeie rugby ná die oggend se slagting in Nieu-Seeland wou sien. En die Leeus, met  ‘n wedstryd meer as die Bulle gespeel, is nou derde op die punteleer – maar selfs die Bulle in sesde plek kan nog met vier wedstryde oor die halfeind haal. (Sien die puntelys en oorblywende bepalings op die skakel  https://maroelamedia.co.za/curriebeker-2017/)

♦  Dyantyi se drie was egter nie die wenpunte nie. Dit het wel die Leeus eensklaps laat voorloop nadat hulle rustyd 26-14 voor was en reeds ʼn bonuspunt verdien het, voordat hulle die Bulle toegelaat het om terug te veg en die voortou op 28-26 te neem.

Toe was daar ʼn strafdoel deur Jaco van der Walt (29-28) en toe Dyantyi se verdoelde drie (36-28). Daar was nog tien minute se speeltyd oor, en die Goue leeus was weer in beheer.

Maar watwou. Vyf minute later het die gaping na 36-33 vernou toe Johan Grobbelaar vir die Bulle gaan druk het en teen die einde moes die Leeus desperaat keer.

Ja, die tellings was hoog en daar is tien drieë gedruk. Maar die manne het mekaar regtig gevat soos in die Jukskei-derby verwag word, en daar is nie veel fout met die verdediging te vind nie.

Die puntemakers –

Goue Leeus (26) 36: Drieë: Jacques van Rooyen, Robbie Coetzee, Rohan Janse van Rensburg 2, Aphiwe Dyantyi. Doelskoppe: Jaco van der Walt 4. Strafdoel: Van der Walt.
Blou Bulle (14) 33: Drieë: Ruben van Heerden, Jano Venter, Warrick Gelant, Johan Grobbelaar, Johnny Kotzé. Doelskoppe: Marnitz Boshoff 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Toppie ·

Watter skitter rugby deur die Leeus en die Bloubulle. Manne julle hou rugby se naam hoog en hoort in die Springbokspan . Wel gedaan aan beide spanne

Chris Ws ·

Stuur een van die’ twee spanne om die ABs te pak.Die eind resultaat kan net beter wees as wat ons sogenaamde springbokspan behaal het!Wat ‘n vernedering!Hoop die span bly sommer in NZ!

Pierre ·

Ja dit was iets om na te kyk, maar nou die vraag, Kwagga het in sy wedstryd ‘n rooikaart gekry vir presies dieselfde oortreding as wat Andries Ferreira begaan het, hy kry ‘n geelkaart en Kwagga word geskors ook nog, waar le die toepassing van die reel dan nou. Gevaarlik is gevaarlik. Nogtans het ons die Rugby geniet.

Josua Keys ·

Johan en Swys het ‘n kultuur by die Leeus geskep dat na 60minute se spel hulle veranderinge op die veld bring, ek glo dit was die sukses wat gehelp het tot die goeie uitslag van die Super reeks vir die Leeus, wat ek graag wil weet is waarom hy dit nie nou toepas by die Lions nie, maak nie saak of ons gaan verloor of nie dit het gehelp om die Leeus te bou want elke ou het geweet wat van hom verwag word en moes sy kant bring as hy op die veld kom. Mnr Joubert hopelik lees jy my skrywe en begin weer om die kultuur terug te bring, mettertyd sal die ouens wel beter word en volle sterkte beryk, indien julle dit nie gaan toepas nie gaan jy nie die ouens kry om saam te speel soos ‘n eenheid nie. Dit is haatlik om op die bank te sit en jy word nie n kans gegee om jou self uit te leef op die veld nie veral as die span sukkel, dit help gewoonlik wanneer ‘n nuwe ou op die veld gestuur word dat hy deur die verloop van die wedstryd iets opgemerk het wat hy dan kan gebruik om sy span weer te motiveer en dit kan dan bydrae tot die eind resultaat goed of sleg. Ek het my al so vererge as julle die ouens vervang het maar het met die tyd geleer wat die doel daar agter was, en dit het wraggie gewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.