Leeus deur na Curriebeker-eindstryd

Ross Cronje laat loop met die bal vir die Leeus in vandag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Griekwas. Die Leeus het die wedstryd 34-19 gewen. Foto: GB Jordaan

Die Goue Leeus het vanjaar die irriterende gewoonte gehad om ’n wedstryd eers in die laaste paar minute van die spel te wen, maar vandag op Ellispark het hulle die Curriebeker-halfeindstryd teen Griekwas reeds in die 70ste minuut in die sakkie gehad.

Die Johannesburgers het die kragmeting 34 – 19 gewen en sodoende hul plek in volgende week se eindstryd bespreek. Dit sal óf in Johannesburg óf in Bloemfontein gespeel word.

Hoewel die Leeus met die louere weggestap het, verdien Griekwas ’n pluimpie vir die wyse waarop hulle vanjaar gespeel het. Hulle het die SuperSport‑uitdaagreeks gewen, terwyl hulle vandag in hul eerste Curriebeker-halfeindstryd sedert 1998 gespeel het.

Maar hulle het in die skrums gesukkel en die Leeus se pak voorspelers – Sithembiso Sithole, Pieter Jansen en Jacobie Adriaanse voor in die koor – het die Kimberley-manne stukkend geskrum. Dan was hulle lynstane ook nie op standaard nie en die Johannesburgers het ’n paar lynstaanballe afgerokkel.

Die Leeus was op die voorvoet en hulle het uiteindelik vier drieë teenoor die besoekers se een gedruk.

Tog was die telling in ’n stadium in die eerste helfte 14 – 13, maar die Leeus se Hacjivah Dayimani het net voordat die sirene vir rustyd geloei het vir ’n drie deurgedraf. En die span wat laaste in die eerste helfte punte aanteken, geniet dikwels die momentumgolf effens meer in die tweede helfte.

Tyrone Green kan een van die sterre van Suid-Afrikaanse rugby word. Foto: GB Jordaan.

Hoewel die laaste veertig minute meer ’n skopstryd tussen Shaun Reynolds en George Whitehead was, het Marnus Schoeman se drie in die 75ste minuut die wedstryd finaal buite Griekwas se bereik geplaas.

Griekwas sal hulself waarskynlik skop dat hulle nie verlede week se ligawedstryd teen die einste Leeus gewen het nie. ’n Wen daar in Kimberley sou beteken het dat hulle ’n tuishalfeindstryd geniet het; maar hulle het daardie wedstryd met een punt verloor.

En maak nie saak hóé goed hulle vooraf in die reeks vertoon het nie, ʼn mens het hulle nie veel kans gegee in ’n halfeindstryd op Ellispark nie. Tog kan Brent Janse van Rensburg (afrigter) trots wees op wat hy met die span bereik het. Hopelik hou hy aan groei as breier by ’n groter unie.

  • Puntemakers:

Leeus: Drieë: Madosh Tambwe, Stean Pienaar, Hacjivah Dayimani, Marnus Schoeman. Doelskoppe: Shaun Reynolds (4). Strafskoppe: Reynolds (2).

Griekwas: Drie: Chris Smit. Doelskop: George Whitehead. Strafskoppe: Whitehead (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Apools ·

Lions, Lions, bring the cup home. So bly die Weer Probeer is gesneuwel. Spul narre.

Marietjie ·

Geluk Leeus. Julle sal die curriebeker Johannesburg toe vat mits AJ Jacobs nie die skeidsregter is nie.

Cuda ·

Geluk aan die Leeus en die Chethas vir julle vordering tot Currie beker finaal. Julle verdien dit. My Bulle sal maar moet wag vir volgende jaar.

Appeljan ·

100% reg. Bulle vol korrupsie WP bankrot en vol binnegevegte oor mag, patetiese seisoen geen playoffs gemaak nie Super rugby of CC. Spul narre soos gewoonlik.

Werner ·

Die Cheetahs is n Pro14-span wat nie in die CC hoort nie. Die Leeus se welpies sal nie die eindstryd wen nie.

Neels ·

Hoop net Saterdag word n ervare skeidregter aangestel , en nie een soos die Leeus Griekwas wedstryd wat nie eers die reels ken nie . Ek is nie n Griekwa ondersteuner nie hoor .

vra maar net ·

Appeljan – waar kom jy daar aan dat die bulle vol korupsie is? Jy is seker n Lion ondersteuner !!!! Bring die beker home Chethas !!!

Appeljan ·

Vra maar net ek is ‘n Leeus supporter asook ondersteun ek enige span wat teen die stormers of WP speel. Gaan lees oor die aanklagte teen ‘n senior Bulls bestuurder wat in Maart bedank het en al die aankkagte teen hom wat nou ondersoek word. Vingertjies in die till.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.