Dit was kliphard met baie positiewe aggressie, maar daar was weinig vir die karige skare om oor opgewonde te raak in Saterdag se Curriebekerwedstryd tussen die Goue Leeus en die Pumas op Ellispark.
Die Leeus, nie naastenby op hulle aanvallende beste nie, het met 29-28 gewen en dit verdien. Hulle moes baie hard vir die oorwinning werk.
Die Pumas, effektief maar eendimensioneel, het weinig aangeval en grootliks op opportunisme en sagte oomblikke aan Leeuskant vir hulle vier drieë staatgemaak.
Die oorwinning se vyf punte, insluitende die bonuspunt vir vier drieë, was egter nie genoeg om die Leeus van hulle laaste posisie op die punteleer te laat vorder nie. Griekwas is steeds een punt voor hulle en die Pumas twee.
Die Leeus se afrigter Swys de Bruin sal effe bekommerd wees oor die besit wat sy span by die afbreekpunte afgestaan het, ʼn keer of wat selfs nadat hulle die bal met die duikslag verloor het; en Ashlon Davids, met goeie voete en altyd bereid om aan te val was wel die speler van die wedstryd, maar sy stelskopwerk was power. Dit gaan die Goue Leeus vorentoe kos.
Brent Janse van Rensburg, afrigter van die Pumas, sal sy manne seker oor hulle dissipline aanspreek nadat hulle 15 strafskoppe afgestaan het. Hulle het ook twee geelkaarte gekry.
Albei spanne het ook te veel duikslae gemis.
Die Pumas het met hulle aggressiewe spel die aanvallende spel van die Leeus ontwrig en hulle opskietverdediging het die jong agterlyn van die tuisspan huiwerig op die aanval laat lyk.
Die bekend Leeus-ritme was gevolglik grootliks afwesig, hoewel die meeste aanvallende rugby van hulle kant gekom het.
In die skrums het die ou voorry-drietal van Jacques van Rooyen, Robbie Coetzee en Ruan Dreyer die Pumas veral voor rustyd stukkend geskrum, en Janse van Rensburg sal ook aan hierdie faset aandag moet gee voor die Pumas aanstaande naweek tuis teen die Sharks in Durban speel.
Puntemakers –
Goue Leeus (22) 29: Drieë: Ryan Kankowski, Ruan Dreyer, Marco Jansen van Vuren, Madosh Tambwe, Rohan Janse van Rensburg. Doelskoppe: Ashlon Davids 2
Pumas (14) 28: Drieë: Stefan Ungerer, Lambert Groenewald 2, Ruwellyn Isbell. Doelskoppe: Kobus Marais 4
Na aanleiding van die wedstryde in die Curriebeker reeks tot op datum is daar nie veel om oor opgewonde te raak nie. Opvallend was die hoeveelheid toeskouers by die wedstryde in vergelyking met die wedstryd tussen die Ulster en die Cheetahs. Dit is dus geen wonder dat die groot unies finansiële probleme het nie.
Die swak vertonings met hanteerwerk wat soms gelyk was aan die van laërskoolspanne was daar min om oor opgewonde te raak.Dit wys maar net weer dat daar min spelers van gehalte in die Leeuspan oorbly nadat beserings ,skorsings en bydrae tot die Springbokspan sy tol geëis het.