Leeus gee weer ’n brul

Foto: GB Jordaan.

Die Leeus is darem weer op die wenpad nadat hulle verlede naweek teen die Pumas in Nelspruit vasgeval het.

Die Johannesburgers het gisteraand ses drieë gedruk om die Westelike Provinsie met 38 – 32 op Ellispark te troef, maar twee agtereenvolgende geelkaarte laat in die wedstryd het byna al hul harde werk ongedaan gemaak.

Jaco Visagie en Ruben Schoeman is in die 68ste en 69ste minuut van die kragmeting met geelkaarte van die veld gejaag en die WP het behoorlik daaruit munt geslaan.

Die Leeus moes bontstaan op verdediging en John Dobson se span het binne nege minute 22 onbeantwoorde punte aangeteken.

Foto: GB Jordaan.

’n Voorsprong van 38 – 10 het skielik na net ses punte gekrimp en die gate op verdediging is eers met Visagie-hulle se terugkeer gestop.

Maar vóór die kaartfiasko het die Leeus gelyk of hulle in een van Elandré se musiekvideo’s kon speel: Hul vertoning het soos Dag en Nag van hul vorige wedstryd verskil.

Hulle het hul Kaapse teenstanders fisiek aangevat, sterk in die skrums vertoon en die blitsige Rabz Maxwane het baie beter as Seabelo Senatla op vleuel gelyk.

Vir hierdie Leeusspan om vier drieë in die eerste helfte te druk – veral nadat hulle skaars ’n paar dae gelede deur die Pumas verfomfaai is – is hoegenaamd nie ’n slegte prestasie nie.

Foto: GB Jordaan.

Daarteenoor het Dobson gesê dat sy span karakter getoon het om terug te veg, maar dat hulle hopeloos te veel aanvalsgeleenthede deur hul vingers laat glip het.

“Ons het sewe ligapunte ná twee wedstryde op die Hoëveld. Dit is omtrent wat ons verwag het as jy die beserings en onbeskikbare spelers in ag neem,” het die WP-breier gesê.

Maar vir die eerste 60 minute van die wedstryd het die Leeus besonder hard gebrul.

  • Puntemakers:

Leeus: Drieë: PJ Botha (2), Rabz Maxwane (2), Ruben Schoeman en Sibusiso Sangweni. Doelskoppe: Fred Zeilinga (4).

WP: Drieë: Strafdrie, Juarno Augustus, Paul de Wet en Cornel Smit. Doelskoppe: Tim Swiel (2). Strafskoppe: Swiel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MAGRIETHA ·

Nie 1 van di spanne is myne nie maar Wp kan hulself gelukkig ag di 2de geelkaart van leeus moes nie gewees het nie di 3 deur wp reserwe skrumskel was nie n 3 nie het vooer toe gelyk

MakersMark ·

Pumas slag Leeus af, WP slag Bulle af en nou slag die Leeus die WP af……snaakse rugby….maar tog opwindende spel.

Anton ·

Miskien nie so snaaks as jy in ag neem dat Bulle 44 spelers nie beskikbaar gehad het nie….maar soos hulle in Italië gespeel sou dit seker nie saak gemaak het nie :-)

MakersMark ·

Anton ek is self ‘n serious Bulle supporter al 35 jr maak hemel hul was vrot laasweek teen albei die WP asook Benneton.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.