Leeus hardloop Cheetahs van hul voete

Willem Alberts op die aanval vir die Leeus. Foto: Twitter.

So ’n paar jaar gelede het die Lions in ’n rits agtereenvolgende Superrugby-eindstryde gespeel. Hulle was avontuurlustig en het gereeld aanvalle sommer so vanaf hul eie doellyn van stapel gestuur.

Vandag in Bloemfontein het hierdie soort rugby weer herleef toe die Leeus die Cheetahs met 39-23 in ’n Curriebeker-wedstryd geklop het.

Die besoekers het balbesit en gebiedsvoordeel oorheers en hulle het uiteindelik vyf drieë gedruk om ’n bonuspunt te verdien.

Dit was nie net die Johannesburgers se jong spelers en hul spoedvrate – soos Wandisile Simelane, Vincent Tshituka en Courtnall Skosan – wat amok onder die Vrystaatse verdedigers gemaak het nie; strydrosse soos Jannie du Plessis en Willem Alberts se klipharde spel is ook met drieë beloon.

Ivan van Rooyen se span het nie geskroom om die bal lug te gee nie en as iemand ooit na ’n verklaring vir “hardlooprugby” gesoek het, moes hulle net na vandag se Leeus-vertoning gekyk het.

Die Rooibontes het veral sterk in ’n tydgleuf net ná rustyd vertoon en hul skrumskakel, André Warner, het toe twee goeie spanpogings afgerond.

Die Cheetahs het wel moedig probeer.

Frans Steyn het met ’n monster-strafskop van 64 m geslaag, terwyl die Bloemfonteiners se plaasvervangers – met Marnus van der Merwe voor in die koor – tevrede oor hul spel kan voel.

  • Puntemakers:

Leeus: Drieë: Willem Alberts, André Warner (2), Jannie du Plessis en Marvin Orie. Doelskoppe: Elton Jantjies (4). Strafskoppe: Jantjies (2).

Cheetahs: Drieë: Ruben de Haas en Marnus van der Merwe. Doelskoppe: Tian Meyer en Frans Steyn. Strafskoppe: Schoeman (2) en Steyn.

  • Hoe die Curriebeker-punteleer ná die naweek se wedstryde lyk:
  1. Blou Bulle 33 punte
  2. Haaie 28 punte
  3. WP 26 punte
  4. Leeus 25 punte
  5. Cheetahs 17 punte
  6. Pumas 11 punte
  7. Griekwas 5 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Dubbelloop

Cheetahs sal dalk nog onder die Pumas en Griekwas op die punteleer eindig. Swak, pateties.