Leeus hardloop die WP stukkend op Ellispark

Die Leeus se voorspelers het hulle deel tot die hardloopfees bygedra. (Foto GB Jordaan)

Die Leeus se voorspelers het hulle deel tot die hardloopfees bygedra. (Foto GB Jordaan)

ʼn Drie 30 sekondes na die afskop en van hulle eie doellyn af het die bal aan die rol gesit en ʼn indrukwekkende, feitlike onkeerbare Goue Leeusspan op die pad na ʼn loesing vir die WP geplaas. Die eindtelling was 58-32.

Die Leeus het agt drieë gedruk, die WP vier in ʼn wedstryd waar die tuisspan soos Superrugby se Lions net eenvoudig gehardloop en gehardloop het teen ʼn WP-span wat geen raad of antwoord gehad het nie.

Die WP het ʼn belangrike bonuspunt met ʼn drie in die 80ste minuut gekry. Dit kan later belangrik wees soos die spanne spook om die vier uitspeelplekke.

Die rustydtelling was 37-14 en het twee drieë van letterlik hul eie vyfmeterlyn ingesluit. Daar was ook verdere stukkies briljante spel en ondersteuning wat op drieë uitgeloop het.

Die Leeus het voorlangs oorheers, ʼn stuk of vyf lynstane van die WP gewen en die afbeekpunte en daaropvolgende vastelos geheel en al oorheers.

Daar was baie uitblinkers. Die yslike 21-jarige nuwelingslot JP du Preez was uitmuntend, die man wat die SA rekord vir die meeste drieë op provinsiale vlak hou, Anthony Volmink, ook. Kwagga Smith, Fabian Booysen, Ross Cronjé … noem hulle maar op.

Die WP, klaarblyklik heeltemal geskud deur daardie eerste drie, het daarna op die oog af nooit weer geglo hulle kan wen nie, al was hulle in ʼn stadium 6-5 voor. Hulle het mildelik tot hul eie ondergang kan wees soos die uitspeelpermutasies verminder in die\laaste aksie van die wedstryd met 29 verbroude duikslae voor rustyd bygedra. Ironies was dit hulle plan om die groot Rohan Janse van Rensburg in die middelveld hok te slaan, wat hul grootste verdedigingsukses was.

Vyf drieë teen een met rustyd was die gevolg van die WP se lakse lakwerk, hoewel van die Leeus se drieë aan hul goeie spel toegeskryf moet word. Dit het ná die omdraaislag darem beter gegaan toe die WP net drie drieë afgestaan en self drie keer gaan druk het.

Dít moet egter in perspektief gesien word. Drie van die WP se vier drieë het in die laaste 17 minute gekom toe al 14 plaasvervangers van die twee spanne op die veld was en veral die Leeus se struktuur daaronder begin ly het.

Die Leeus het toe té los probeer speel, té veel onaanvaarbare aangeë uitgeslinger en was in die geheel net ʼn skadu van die span wat in die eerste helfte so oorheers het.

Hulle weet nou wat hulle kán doen, en moet dit eenvoudig langer volhou.

Puntemakers –

Goue Leeus (37) 58: Drieë: Jacques Nel, Robbie Coetzee, Andries Coetzee, JP du Preez, Rohan Janse van Rensburg, Anthony Volmink, Kwagga Smith 2. Doelskoppe: Jaco van der Walt 6. Strafdoele: Van der Walt 2
Westelike Provinsie (13) 32: Drieë: Leolin Zas, Jacques Vermeulen 2, Dewaldt Duvenhage. Doelskoppe: Robert du Preez 3. Strafdoele: Du Preez 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.