Leeus is op die oorlogspad

Foto: GB Jordaan.

Kyk, dit sou geensins die toekenning ontvang het vir die aanskoulikste rugbywedstryd van die jaar nie – daarvoor was daar hopeloos te veel skoppe – maar die Leeus was ongetwyfeld gisteraand die beste span op die veld.

Die Johannesburgers se Curriebekerveldtog is besig om lekker momentum op te bou en ná hul puik sege van 27 – 12 teen die Haaie op Ellispark is hulle nou tweede op die punteleer.

Die grondslag vir die Leeus se vertoning is weer eens voorlangs gelê en die voorry van Jannie du Plessis, Jaco Visagie en Dylan Smith het die besoekers nagmerries gegee.

Voeg daarby die vlugvoetige briljantheid van Wandisile Simelane en die krag van Tiaan Swanepoel se kanonskopvoet; en jy sit met ’n Leeutrop wat weet hoe om wedstryde te wen.

Vir die Haaie het Curwin Bosch sy bes probeer – hy het weer eens met ’n strafskop van 60 m geslaag – maar dit het net nooit gelyk asof die Durbaniete enige bedreiging op die aanval was nie en hulle kon geen momentum opbou nie.

Foto: GB Jordaan.

Die Haaie is platgeduik en hulle het selfs die skopstryd verloor; hulle het met ’n harde slag teruggekom aarde toe nadat hulle verlede week met die Bulle afgereken het.

Die komende naweek se wedstryd tussen die Leeus en die Blou Bulle op Loftus Versfeld het juis al die bestanddele van ’n bobaas derby-stryd: Jake White se hardebaarde teen Ivan van Rooyen se opwindende span.

Mits Covid-19 dit nie in die wiele ry nie.

Puntemakers:

Leeus: Drieë: Courtnall Skosan en Tiaan Swanepoel. Doelskop: Elton Jantjies. Strafskoppe: Jantjies (3) en Swanepoel (2).

Haaie: Strafskoppe: Curwin Bosch (4).

Curriebeker-punteleer:

  1. Blou Bulle 35 punte
  2. Leeus 29 punte
  3. Haaie 28 punte
  4. WP 26 punte
  5. Cheetahs 21 punte
  6. Pumas 12 punte
  7. Griekwas 7 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.