Leeus kan weer hul wonde lek

Wanneer ʼn rugbyspan met die rug teen die muur is, moet hy na homself in die spieël kyk.

Die Britse en Ierse Leeus, van wie daar vooraf só baie verwag is voor vanjaar se toer na Nieu-Seeland,  kan heeltemal ontspoor as hulle Saterdag se tweede toets in Wellington ook verloor nadat die All Blacks verlede week in Auckland met 30-15 aan die wenkant was.

Die Leeus was van die begin af in ʼn lokval gelei. Hulle moes nooit die strawwe toerprogram aanvaar het nie, hulle moes vroeër na Nieu-Seeland gereis het, hulle moes ʼn ander span gekies het, hulle moes meer gehardloop het, hulle moes meer geskop het, die skeidsregters kyk anderkant toe wanneer die All Blacks oortredings begaan, die Nieu-Seelanders pleeg obstruksie, hulle skrum verkeerd, hulle blokkeer spelers, hulle probeer hul bes om sleutelspelers soos Conor Murray te beseer …

Maar ai, wanneer jy darem vier jaar gehad het om te beplan, wanneer jy die room van vier lande se spelers kon kies, wanneer jy die beste afrigtingspan kon kies en wanneer jy ʼn ondersteuningspan van byna 40 lede het, moet jy selfondersoek doen waarom jy slae kry.

Sam Warburton – die Leeus se kaptein. Hulle het iets spesiaals nodig om die toets te wen.(Foto Twitter @lionsofficial)

Dit kan sekerlik nie maklik wees om te beplan hoe om die All Blacks te klop nie. Hoe lê jy spelbrekers soos Israel Dagg, Waisake Naholo, Rieko Ioane,  Sonny Bill Williams, Beauden Barrett en Aaron Smith aan bande?

Net met opskietverdediging?

Hoe kry jy genoeg besit voorlangs? Hoe klop jy Sam Whitelock, Brodie Retallick en  Kieran Read in die lynstane, hoe keer jy Sam Cane-hulle om nie hoogty te vier in die stryd om die losbal nie?

Dit gaan ʼn baie spesiale vertoning deur ʼn baie spesiale speler(s) verg.

Soos Tom van Vollenhoven teen 1955 se Leeus, Mannetjies Roux in 1962, Frik du Preez in 1968, Gysie Pienaar in 1980 en Jacque Fourie in 2009.

Dis dan wanneer en waar helde gebore word.

Het die Britse en Ierse Leeus van 2017 sulke spelers?

Liam Williams, Jonathan Davies, Owen Farrell, Johnny Sexton, Murray, Maro Itoje?

Die Leeus kon laas in 1993 in Nieu-Seeland wen en hulle het tien van hul laaste 11 toetse daar verloor. Hulle laaste – en enigste – reeksoorwinning sedert 1904 was in 1971.

As jy dan ʼn huis het om daarop te waag, plaas dit op die All Blacks, met 20 punte.

Die spanne –

Nieu-Seeland
Israel Dagg, Waisake Naholo, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (kapt.), Sam Cane, Jerome Kaino; Sam Whitelock, Brodie Retallick; Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank:  Nathan Harris, Wyatt Crockett, Charlie Faumuina, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Aaron Cruden, Ngani Laumape.

Britse en Ierse Leeus
15 Liam Williams, 14 Anthony Watson, 13 Jonathan Davies, 12 Owen Farrell, 11 Elliot Daly, 10 Johnny Sexton, 9 Conor Murray; 1 Mako Vunipola, 2 Jamie George, 3 Tadhg Furlong, 4 Maro Itoje, 5 Alun Wyn Jones, 6 Sam Warburton (kapt.), 7 Sean O’Brien, 8 Taulupe Faletau. Bank: 16 Ken Owens, 17 Jack McGrath, 18 Kyle Sinckler, 19 Courtney Lawes, 20 CJ Stander, 21 Rhys Webb, 22 Ben Te’o, 23 Jack Nowell.

Skeidsregter: Jerome Garces (Frankryk)
Assistent-skeidsregters:  Romain Poite (Frankryk) en Jaco Peyper (Suid-Afrika)
TV-skeidsregter: George Ayoub (Australië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herrie 123 ·

Sê dit vir daardie John Robbie op SuperSport se paneel. Die Leeus het dan nog net 3 wedstryde uit 8 gewen op die toer? Sekerlik is dit tyd dat almal wakker skrik en besef dat die All Blacks op ‘n heel ander vlak is. Die Leeus se ondersteuners het dan so aangegaan toe hulle die Crusaders net-net geklop het. ‘n Crusaders span sonder al hul All Blacks. Sekerlik kan jy net so lank in jou eie fantasie-wêreld leef voor realiteit you tref.

Nico K ·

NZ is nou maar eenmaal die beste en het die laaste 10 jaar al verder voor die ander beweeg. As ons na SA se rekord teen NZ die afgelope 20 jaar kyk het ons so 30% gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.