Leeus kies groot kanonne vir Crusaders

Wallis se mees ervare voorspeler, Alun Wyn Jones, voer Saterdag in Christchurch ʼn gewonde Britse en Ierse Leeus-span aan, wat sal poog om Superrugby se toonaangewer, die Crusaders, ore aan te sit.

Die 31-jarige Jones, wat Wallis al in 110 en die Britse en Ierse Leeus in ses toetse verteenwoordig het, se taak is gewis nie eenvoudig nie.

Die Crusaders is onoorwonne in vanjaar se Superrugby met 14 seges op hul kerfstok. Daarbenewens spog die sewemalige kampioen met agt All Blacks – wat die hele vaste vyf insluit – in sy geledere.

Sam Whitelock (slot) sal die span lei, wat Israel Dagg in die laaste vesting insluit.

Die twee, Luke Romano (slot), Owen Franks, Joe Moody (stutte), Cody Taylor (haker) en Wyatt Crockett is deel van die groter All Black-groep wat kragte met die Britse en Ierse Leeus en Samoa sal meet.

Jack Goodhue (buitesenter) en Matt Todd (flank) is op bystand vir die All Blacks geplaas.

Warren Gatland se span is egter self nie katjies wat sonder handskoene aangedurf moet word nie. Nege van die beginspan se spelers het vir die Leeus in 2013 in Australië uitgedraf. Dit is gewis ook so naby aan Gatland se eerstekeusespan as wat mens voor die amptelike toetse sal sien.

Op losskakel kry Owen Farrel die geleentheid om te wys hoekom hy die nommer 10-trui bo Ierland se Jonathan Sexton en Wallis se Dan Biggar verdien, hoewel binnesenter sy gekose posisie is.

Daar wag ook ʼn groot oomblik vir George North, Jonathan Davies and Sean O’Brien wat al drie hul buigings vir die Britse en Ierse Leeus sal maak.

Die spanne –

Crusaders: 15. Israel Dagg, 14. Seta Tamanivalu, 13. Jack Goodhue, 12. David Havili, 11. George Bridge, 10. Richie Mo’unga, 9. Bryn Hall, 8. Jordan Taufua, 7. Matt Todd, 6. Heiden Bedwell-Curtis, 5. Sam Whitelock (kaptein), 4. Luke Romano, 3. Owen Franks, 2. Codie Taylor, 1. Joe Moody. Bank: 16. Ben Funnell, 17. Wyatt Crockett, 18. Michael Alaalatoa, 19. QuintenStrange, 20. Jed Brown, 21. Mitchell Drummond, 22. Mitchell Hunt, 23. Tim Bateman

Britse en Ierse Leeus: 15. Stuart Hogg (Skotland), 14. George North (Wallis), 13. Jonathan Davies (Wallis), 12. Ben Te’o (Engeland), 11. Liam Williams (Wallis), 10. Owen Farrell (Engeland), 9. Conor Murray (Ierland), 8. Taulupe Faletau (Wallis), 7. Sean O’Brien (Ierland), 6. Peter O’Mahony (Ierland), 5. George Kruis (Engeland), 4. Alun Wyn Jones (kaptein, Wallis), 3. Tadhg Furlong (Ierland), 2. Jamie George (Engeland), 1. Mako.Vunipola (Engeland). Bank: 16. Ken Owens (Wallis), 17. Jack McGrath (Ierland), 18. Dan Cole (Engeland), 19. Maro Itoje (Engeland), 20. CJ Stander (Ierland), 21. Rhys Webb (Wallis), 22. Johnny Sexton (Ierland), 23. Anthony Watson (Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.