Leeus kies hul monsterskop-koning teen Vrystaters

Tiaan Swanepoel. Foto: Twitter.

Die Leeus het hul groot kanonne vir die naweek se Curriebeker-stryd teen die Vrystaatse Cheetahs gekies. Tiaan Swanepoel – die man wat verlede week met ’n strafskop van meer as 60 m op Ellispark teen die WP suksesvol was – is weer op heelagter gekies.

En die Cheetahs moet maar versigtig wees vir hom: As hulle Saterdag in Bloemfontein ’n strafskop (selfs in hul eie helfte) afstaan, kan Swanepoel hulle op die telbord straf.

“Ons weet wat Tiaan met sy skopvoet kan doen. Hy het nou die dag op die oefenveld met ’n skop van 70 m geslaag,” het ’n opgewonde Ivan van Rooyen, Leeus-afrigter, gesê.

Maar dit sal ’n fout wees as die Bloemfonteiners net op Swanepoel se vaardighede fokus en van die ander spelers vergeet.

Die Leeus het Jannie du Plessis en Willem Alberts in hul beginspan, terwyl Dan Kriel vir die beseerde Burger Odendaal op binnesenter vervang.

Die Cheetahs sal op hul beurt egter sonder die diens van die gevaarlike Rosko Specman wees wat die kragmeting weens ’n dyspierbesering misloop. Malcolm Jaer en William Small-Smith is die tuisspan se vleuels.

Frans Steyn – wat al self met ’n hele paar allemintige stelskoppe in sy loopbaan geslaag het – sal weer die no. 12-trui dra.

Die wedstryd begin Saterdag om 16:30 en sal op SuperSport uitgesaai word.

Cheetahs: Clayton Blommetjies (heelagter), William Small-Smith (regtervleuel), Howard Mnisi (buitsenter), Frans Steyn (binnesenter), Malcolm Jaer (linkervleuel), Tian Schoeman (losskakel), Tian Meyer (skrumskakel), Jeandré Rudolph (agtsteman), Aidon Davis (flank), Andisa Ntsila (flank), Carl Wegner (kaptein en slot), Ian Groenewald (slot), Khutha Mchunu (stut), Jacques du Toit (haker) en Boan Venter (stut). Plaasvervangers: Marnus van der Merwe, Cameron Dawson, Erich de Jager, Reniel Hugo, Victor Sekekete, Ruben de Haas, Reinhardt Fortuin en Dries Swanepoel.

Leeus: Tiaan Swanepoel (heelagter), Stean Pienaar (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Dan Kriel (binnesenter), Courtnall Skosan (linkervleuel), Elton Jantjies (kaptein en losskakel), André Warner (skrumskakel), Len Massyn (agtsteman), Vincent Tshituka (flank), Jaco Kriel (flank), Willem Alberts (slot), Marvin Orie (slot), Jannie du Plessis (stut), Jaco Visagie (haker) en Sti Sithole (stut). Plaasvervangers: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Ruan Dreyer, Reinhard Nothnagel, Wilhelm van der Sluys, Morné van den Berg, Manuel Rass en Roelof Smit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.