Leeus kies hul Van der Merwe teen Bokke

Duhan van der Merwe sal vir die Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke uitdraf. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Warren Gatland het sy span bekend gemaak wat hierdie naweek teen die Springbokke in Kaapstad moet kragte meet. Die groot verrassing is egter die weglating van die driedruk-masjien, Josh Adams.

Die 26-jarige Walliese vleuel het die Suid-Afrikaanse provinsiale spanne gereeld na lug laat gryp en hy het onder meer vier drieë teen die plaaslike Leeus in Johannesburg gedruk.

Sy weglating het die oorsese joernaliste laat kopkrap, nie net omdat hy ’n doring in enige span se vlees op die aanval is nie, maar ook omdat hy ’n uitstekende verdediger én een van Gatland se gunstelingspelers is.

Die Suid-Afrikaans gebore Duhan van der Merwe en Anthony Watson sal nou Saterdag op vleuel uitdraf, met Dan Biggar op losskakel en Owen Farrell op die plaasvervangersbank.

Josh Adams op pad na een van sy vier drieë teen die Johannesburgers . Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Dan sal Kwagga Smith en kie. teen ’n lostrio van Jack Conan, Tom Curry en Courtney Lawes moet kragte meet.

Die groot nuus is dat Alun Wyn Jones terug in die beginvyftiental is en die span sal aanvoer.

Die 35-jarige strydros het sy skouer in die Leeus se opwarmingswedstryd teen Japan beseer, maar hy het merkwaardig van die besering herstel. Die eerste toets sal sy tiende agtereenvolgende wedstryd vir die Leeus wees en hy sluit hom nou by die uitgelese geselskap van spelers soos Willie-John McBride (17 wedstryde), Mike Gibson (12 wedstryde) en Gareth Edwards (10 wedstryde) aan wat in tien of meer  kragmetings vir die Leeus uitgedraf het.

Wallis se Alun Wyn Jones is die kaptein van die toerspan. Foto: Twitter.

Volgens Gatland het baie spelers hul kleim vir ’n plek in die toetsspan afgesteek en dit was ongelooflik moeilik om die span vir die eerste toets te kies.

“Ons weet waarteen ons in Kaapstad te staan gaan kom. Dit gaan ongetwyfeld ’n taai armdruksessie wees en ons sal uit die staanspoor ons fisieke stempel op die spel moet afdruk,” het Gatland gesê.

“Ons gaan ons bes doen om die wedstryd te wen.”

Britse en Ierse Leeus: Stuart Hogg (heelagter), Anthony Watson (regtervleuel), Elliot Daly (buitesenter), Robbie Henshaw (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Dan Biggar (losskakel), Ali Price (skrumskakel), Jack Conan (agtsteman), Tom Curry (flank), Courtney Lawes (flank), Alun Wyn Jones (kaptein en slot), Maro Itoje (slot), Tadgh Furlong (stut), Luke Cowan-Dickie (haker) en Wyn Jones (stut). Plaasvervangers: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadgh Beirne, Hamish Watson, Conor Murray, Owen Farrell en Liam Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oom ·

En dit is nie eers ‘n Koos-van-der-Merwe-grap nie. Wat ‘n tragedie dat eersteklas spelers nie in hulle eie land kans kry om vir hul eie nasionale span te speel nie. Soos dit deesdae aangaan sal dit binnekort soos ‘n familietwis wees soos plaaslike Suid-Afrikaners teen oorsese Suid-Afrikaners speel.

piet ·

Jy moet nogal goed wees om vir die Springbokke vleuel te speel. Hy sal waarskynlik iemand soos Kolbe moet lig wat as een van die bestes (indien nie die beste vleuel te wereld) beskou word nie. Te betwyfel of hy die Bok-span op meriete sal haal.

Oom ·

En dit is nie eers ‘n Koos-van-der-Merwe-grap nie. Wat ‘n tragedie dat eersteklas spelers nie in hulle eie land kans kry om vir hul eie nasionale span te speel nie. Soos dit deesdae aangaan sal dit binnekort soos ‘n burgeroorlog wees soos plaaslike Suid-Afrikaners teen oorsese Suid-Afrikaners speel.

Anthony ·

Duan is gekies om ons calls te probeer uitfigure, hulle kort iemand af Afrikaans kan verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.