Leeus maak indruk, Bulle maak skande

Vrystaat logo ronelNet soos die Blou Bulle verlede naweek teen die Westelike Provinsie straf uitgedeel het, só het die Vrystaat Cheetahs dit Saterdag in Bloemfontein met húlle gedoen en 43-20 gewen. En op Ellispark het die ‘nuwe’ indrukwekkende Goue Leeus die Pumas ook flenters gehardloop, 68-28.

Terwyl die Leeus se groot sege min of meer verwag is, was die mees noemenswaardige die loesing wat die Bulle op die lyf geloop het. Dit was een van hul grootstes ooit in Curriebekerrugby.

Toe rustyd aanbreek, was die Blou Bulle volgens die statistiek byna net so goed daaraan toe as die Vrystaat, maar 10-24 agter op die telbord.

Dit was miskien een van daardie dae dat dinge nie vir die Bulle wou regloop nie, maar hiervoor moet die Vrystaat Cheetahs die eer kry. Wanneer ʼn Blou Bul gelak is, het die bal los gespat; wanneer hulle gedryf het, het die Vrystaters hulle gestuit. Hulle agterlyn kon ook nooit teen die hegte verdediging indruk maak nie.

Toe dit eindelik in die eerste helfte gelyk het of die Bulle sou druk en die gaping vernou, het die Vrystaat – weer van omkeerbesit af – van hul eie doellyn weggebars. Goeie tussenspel waar William Small-Smith prominent was en veral beïndruk het met die wyse waarop hy na links geswenk het om die verdediging te trek, het die damwal gebreek.

Die stut Ox Nche, wat verlede week teen die Boland ook met sy lopies indruk gemaak het, het die aangee van Small-Smith gevat en met groot vaart vir so ʼn groot man letterlik 50 meter gehardloop om te gaan druk.

Ses drieë teen twee is waarskynlik ʼn goeie weergawe van verdienste tussen twee spanne waar die een vol energie was en die ander lusteloos voorgekom het.

Vir die Blou Bulle se afrigter Nollis Marais is daar heelwat om oor te dink, insluitende ʼn agterlyn wat stereotiep was en gereeld agteruit geduik is.

Vrystaat Cheetahs (24) 43: Drieë: Francois Venter, Clayton Blommetjies, Ox Nche, Uzair Cassiem, William Small-Smith, Benjamin. Doelskoppe: Fred Zeilinga 4, Neil Marais. Strafdoel: Zeilinga
Blou Bulle (10) 20   :  Drieë: Jannes Kirsten, Ruan Steenkamp. Doelskoppe: Tian Schoeman, Joshua Stander. Strafdoele: Schoeman 2

♦  Die Goue Leeus gaan nie sommerso van die Curriebeker afstand doen nie. Dit was duidelik in hulle sege van 68-28 teen die Pumas. Die nuwe klomp het getoon dat hulle trots is om die Curriebekerhouer te wees, en was met dieselfde wedstrydplan en ewe goeie ondersteuning en gladde hanteerwerk as die Lions onstuitbaar was.

Soos verwag is, lyk dit of die Curriebekerreeks te veel spanne het waarvan veral ʼn paar nie opgewasse gaan wees nie.

Dit is die Pumas se tweede groot pak, en dit het Saterdag gelyk of hulle as enkelinge merendeels gehoop het ʼn spanmaat sal verdedig. Die gevolg was dat die Leeus amper na willekeur deurgehardloop het.

Ironies genoeg het die Pumas, wanneer hulle op die voorvoet gekom het, goed gelyk en hulle het ook ʼn bonuspunt met vier drieë behaal. Dit dui daarop dat die Leeus in die faset ook sal moet regruk, iets wat met ʼn klomp nuwe spanmaats seker te wagte was.

Die mede-kaptein Howard Mnisi was veral gevaarlik en het ʼn hele paar bresse geslaan, en op die vleuel het Anthony Volmink die Pumas die hele tyd aan die raai gehad.

Dit was hulle eerste wedstryd, en dit kan vorentoe net beter.

Die puntemakers –

Goue Leeus (35) 68Drieë: Lourens Erasmus, Jaco van der Walt, Anthony Volmink 2 , Cyle Brink, Sylvian Mahuza, Akker van der Merwe, Howard Mnisi, Koch Marx, Marnitz Boshoff. Doelskoppe: Jaco van der Walt 6 , Marnitz Boshoff 3 .
Pumas (14) 26Drieë: Marlou van Niekerk, Khwezi Mona, Justin van Staden, Devon Williams. Doelskoppe: Francois Brummer 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Arie ·

Daar is groot fout by die bulle en dit begin by bestuur, tyd vir huis skoonmaak

Jakkalas ·

Wat ons nou wil sien is dat Ackers nog meer jong speler talent intrek wanneer spelers vir die Bokke opgeroep word. Hy moet enige dag twee spanne kan uitstuur op die veld as daar weer beserings kom spook. Baie blink toekoms vir die Leeus en die Lions spelers.

Ellen ·

Die Bulle is in herstelproses, onthou net die Currie Cup word nie in Augustus beslis nie

Cheetah ·

Is dit werklik ‘ n skande om teen die Cheetahs te verloor; bestaan Curriebekerrugby dan net altyd uit die Bulle se wen?

Johan ·

Ek stem so saam met jou….alles gaan mos altyd oor die bulle

Patrys ·

Manne gee darem vir die Cheetahs ook krediet i.p.v om te praat van groot fout by die bulle. A nee a. Die Cheetahs het uitstekend gespeel en is oppad om te veg vir die Curriebeker hierdie jasr. Twee wedstryde, 2 wenne twee bonuspunte! 6 drië teen die bulle! Elke keer as die bulle op hul baadjie kry, is daar kastig fout by hulle.

Johann ·

As ‘n Sharks kndersteuner wil ek sê ek stem 100% saam met jou, Patrys. In plaas daarvan om aan die Cheetahs krediet te gee maak die bulle skande. Die drie deur Ox Nche sal swaarlik hierdie eeu verbeter word. Swak!!!

Arie ·

Waarvan herstel die bulle Ellen? Hulle het bitter min spelers aan die bokspan afgestaan en dis dieselfde afrigters. Dit lyk nie of hulle wil speel nie en dit wys daar is fout.

Kleintjie ·

Fantasties Cheetahs. Julle kan wen en hou asseblief so aan.

Josua Keys ·

Die probleem by die Bulls, Stormers en die Sharks die afgelope paar jare was dat die keurders en afrigters hulself blind gestaar het met “name” in plaas van vorm en nuwe talent. Allister Coetzee is besig om dieselfde pad met die bokke te stap. Franko Smit by die Cheethas is besig om nuwe talent vir die Cheethas voor te bery soos Ackers en Swys by die leeus gedoen het, nou sukkel die drie bonde om hul naam te herwin en goeie rugby te speel, ek sê weer gee die jong ouens ‘n regverdige kans om ondervinding op te doen en los die ouens in die buiteland uit. Die Leeus het ook ‘n paar spelers verloor aan die buiteland maar almal het Super Rugby gespeel en het hulself weer beskikbaar daarvoor gestel daarom is hulle kiesbaar vir die Bok span, die spelers wat glad nie meer vir enige span in SA speel nie is dan automaties onkiesbaar vir die Bokke en klaar. Die sewe span het ook dringend verandering nodig want daar word ook gefokus op name en nie meer talent nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.