Leeus reken met leeutemmer af

Jaco Otto (Foto: Tobias Keil)

Jaco Otto (Foto: Tobias Keil)

Dit was Saterdag in Keulen, Duitsland, `n geval dat die leeus met die leeutemmer afgereken het.

Die Spaanse Leeus het die tuisspan, wat deur die gewese Tukkie Kobus Potgieter afgerig word, en op verskeie Suid-Afrikaners staat maak, oortuigend met 32-15 in die reeks om die Rugby Europa-kampioenskap (REK) geklop.

Duitsland het vroeër vriend en vyand verras deur die eerste keer in meer as 70 jaar met Roemenië af te reken, maar het sedertdien nie dieselfde peil gehandhaaf nie.

Hy moes ook die tweede keer vanjaar toekyk hoe sy kaptein die veld met `n besering verlaat. Die skrumskakel Sean Armstrong, wat by die gewese Valsbaaise slot Michael Poppmeier oorgeneem het ná dié teen Roemenië beseer is, het teen Spanje in die slag gebly.

Duitsland sal nou harder moet werk as hy in 2019 in Japan aan die toernooi om die Wêreldbeker wil deelneem – `n sterk moontlikheid ná sy sege oor Roemenië, die gunsteling om Europa kragtens die uitspeelreëls te verteenwoordig.

Die flank Jaco Otto het `n drie vir Duitsland gedruk, en die losskakel Raynor Parkinson het met `n doelskop en `n strafdoel geslaag.

Otto het op sy dag vir die Sharks se o.21-span gespeel, en Parkinson vir die Universiteit van Johannesburg.

Marcel Coetzee, `n gewese o.19-senter van die Sharks, wat nou vir die Duitsers in dié posisie uitdraf, het hom `n geel kaart op die hals gehaal.

In Saterdag se ander wedstryd in die reeks, die vlak net onder die Sesnasies, het Roemenië in Brussel met 33-17 teen België gewen.

In die reeks om die Rugby Europa-trofee (RET) het Portugal in Lissabon `n wegholoorwinning van 59-0 oor Moldawië behaal.

Die Wolwe het met die jongste afskuiwing uit die REK in die slag gebly, en dis duidelik dat die eertydse Europese kampioen vasbeslote is om sy plek terug te wen.

♦ Intussen het die gewestelike beheerliggaam Rugby Europa (RE), wat 48 lidlande verteenwoordig, `n formele versoek tot die Sesnasies-maatskappy gerig om oor promosie en relegasie betreffende Europa se senior reeks in gesprek te tree.

Dit spruit onder meer uit die verskansing van Italië se plek in die reeks ondanks die feit dat Georgië tans hoër op die wêreldranglys is.

Laasgenoemde oorheers die afgelope tien jaar die tweedevlakrugby in Europa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.