Leeus se mees ervare speler op pad na Japan

Ryan Kankowski in aksie vir die Goue Leeus teen sy ou span, die Sharks. (Foto GB Jordaan)

Verreweg die mees ervare speler in die Goue Leeus se Curriebekerspan is nie verder vanjaar vir hulle beskikbaar nie.

Ryan Kankowski, wat onder meer 20 toetse vir die Springbokke en ook in 2009 en 2016 in tien toernooie vir die Blitsbokke gespeel het, is deur die Goue Leeus vrygestel om in Japan te gaan speel.

Die Leeus behou egter die opsie om hom vir die 2018-Superreeks te kies.

Voor die Curriebekerseisoen, waar die Leeus hom onder meer gekontrakteer het om leiding aan die onervare jonger spelers te gee, het Kankowski reeds 233 eersterangse wedstryde op sy kerfstok  gehad – 166 vir die Sharks se Superrugbyspan en vir hul Curriebeker- en Vodacomspanne.

Hy het in 2006 as sewesspeler die oog gevang en vir die Blitsbokke gespeel. Verlede jaar is hy weer deur die Blitse se afrigter Neil Powell nadergetrek met die oog op die Rio Olimpiese Spele. Hy het toe in nog vier sewestoernooie gespeel maar nie die Rio-span gehaal nie.

Kankowski, wat verlede seisoen vir die Toyota Industries Shuttles in Japan gespeel het, sal die res van die seisoen vir die NTT Docomo Red Hurricanes beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.