Leeus se span bekend vir toets teen SA A-span

(Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Die Springbokke en Britse en Ierse Leeus het Sondag in die Moederstad aangekom en sal nou met voorbereiding begin vir die volgende drie toetse.

Die twee spanne speel op 24 Julie in die Kaapstad-stadion. Die Britse en Ierse Leeus kom egter voor dit teen ’n Suid-Afrikaanse A-span en die Stormers te staan. Dié wedstryde vind onderskeidelik op 14 en 17 Julie plaas.

“Ons dink al byna sedert die dag dat ons die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het aan hierdie eerste toetswedstryd. Dit is regtig opwindend om hier in Kaapstad te wees vir die finale voorbereidings,” het Rassie Erasmus, direkteur van rugby in Suid-Afrika, gesê.

“Dit is die eerste toetswedstryd om in die Kaapstad-stadion gespeel te word. Dit is ’n nuwe venue vir ons en dit is ook die begin van ’n nuwe geskiedenis.”

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het die spanne se aankoms in die Moederstad verwelkom. Weens Covid-19-protokol kon hy hul egter nie in persoon verwelkom nie.

“Dit is regtig ’n plesier om die Britse en Ierse Leeus in ons pragtige stad te hê. Ons sien daarna uit om hulle die wêreldbekende Kaapstadse gasvryheid te bied. As ’n stad wat lief is vir rugby is ons teleurgesteld dat hulle nie die atmosfeer van ’n volgepakte Kaapstad-stadion sal kan ervaar nie, maar ons belowe om hul verblyf in Kaapstad ’n onvergeetlike ervaring te maak,” het Plato gesê.

Rassie Erasmus sal die Bok-oefeninge lei. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Die spanne sal vir twee weke in die Moederstad wees voor hulle na Gauteng sal terugkeer vir die laaste twee toetse.

Die Bokke het Sondag weer begin oefen ná ’n spul Covid-19-toetse en ’n voorkomende isolasietydperk van ses dae.

Spelers soos Siya Kolisi, Dan du Preez, Ox Nché, Bongi Mbonambi, Scarra Ntubeni en Makazole Mapimpi het positief vir die virus getoets. Omdat Jacques Nienaber (afrigter) nog moet isoleer nadat hy ook positief vir die virus getoets het, sal Erasmus die leisels op die oefenveld oorneem.

Conor Murray sal die Britse en Ierse Leeus lei vir Woensdag se wedstryd teen ’n Suid-Afrikaanse A-span.

“Woensdag sal ons moeilikste wedstryd wees sedert ons hier aangekom het en ons sien uit daarna. Ons verwag dat hulle fisiek in die kontak sal wees en ons in die skrums sal toets,” het Warren Gatland, die Leeus se afrigter, gesê.

Britse en Ierse Leeus se span vir Woensdag:

Anthony Watson, Louis Rees-Zammit, Chris Harris, Bundee Aki, Josh Adams, Dan Biggar, Conor Murray, Wyn Jones, Ken Owens, Kyle Sinckler, Maro Itoje, Iain Henderson, Josh Navidi, Tom Curry, Taulupe Faletau.

Plaasvervangers:

Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola, Zander Fagerson, Adam Beard, Tadhg Beirne, Sam Simmonds, Gareth Davies, Elliot Daly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Duan en die ander groot leeus kry seker bietjie ruskans vir die eintlike toetse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.