Die Goue Leeus draf Vrydagmiddag (17:00) op Ellispark teen die Boland Kavaliers uit met ʼn hele paar spelers wat nie in die verloorwedstryd teen Griekwas gespeel het nie en sonder die meeste van hulle beskikbare Supersterre.
Dit is duidelik dat die afrigtingspan van Johan Ackermann van die manne wil ruskans gee na die klipharde Superseisoen en terselfdertyd van hulle jonger spelers meer blootspelling op ʼn hoër vlak wil gee.
Die Leeus se mede-kaptein Ross Cronjé is nie in die beginspan nie, en is saam met die loskop Dylan Smith op die bank. Daar is geen plek in die wedstryd-22-tal vir die haker Akker van der Merwe, die vleuel Courtnall Skosan en Jaco van der Walt, wat in die Superreeks vir die beseerde Andries Coetzee op heelagter ingestaan het maar vir die Goue Leeus die losskakel was nie.
Dit is ʼn totaal nuwe voorry wat teen die Boland speel, met Corné Fourie, Ramone Samuels en Piet Scholtz wat in die plekke van onderskeidelik Jacques van Rooyen, Van der Merwe en Dylan Smith sak. Van Rooyen kry ook die naweek af.
Die Superspan se agsteman-plaasvervanger Ruan Ackermann speel slot, ʼn posisie wat nie aan hom vreemd is nie. Sy slotmaat is Martin Muller wat vir Lourens Erasmus vervang, wat ook nie in die wedstryd-22-tal is nie.
ʼn Interessante keuse op die bank is die haker Robbie Coetzee wat van sy besering vier maande gelede herstel het. Hy was die afgelope twee jaar baie naby aan die Springbokspan en sal saam met Van der Merwe en Malcom Marx nie net meer diepte verskaf nie maar ook in ʼn interessante stryd gewikkel wees om te bewys wie is die eeus se beste haker.
Goue Leeus –
15 Andries Coetzee, 14 Selom Gavor, 13 Jacques Nel, 12 Howard Mnisi (kapt.), 11 Anthony Volmink, 10 Marnitz Boshoff, 9 Dillon Smit, 8 Ruaan Lerm, 7 Victor Sekekete, 6 Steph de Wit, 5 Martin Muller, 4 Ruan Ackermann, 3 Pieter Scholtz, 2 Ramone Samuels, 1 Corné Fourie. Bank: 16 Robbie Coetzee, 17 Dylan Smith, 18 Bobby de Wee, 19 Cyle Brink, 20 Ross Cronjé, 21 Koch Marx, 22 JW Bell.