Leeus se titelverdediging begin

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die wedstryd tussen die Vrystaat Cheetahs en die Blou Bulle Saterdagmiddag (17:10) sal waarskynlik die taaiste in dié week se Curriebekerreeks wees, maar daar sal ook heelwat fokus op die vertoning van die Goue Leeus wees.

Hulle speel op Ellispark teen die Pumas, en die 15 nuwe gesigte in die span vergeleke by die opdrafspan in die franchise-span Lions in die Super-eindstryd sal ʼn aanduiding kan gee hoe die verdedigende kampioen die seisoen sal vaar.

Al 15 spelers in die Leeus se beginspan het al Superrugby gespeel. Op die bank is daar ook manne met Super-ervaring en selfs ʼn Springbok, Marnitz Boshoff.

Die Pumas het die wedstryd in die Curriebeker se opstellende ronde teen die Leeus gewen, maar hierdie is die ware Jacob. Verloor en motivering het toe meer vir die Pumas wat moes kwalifiseer saakgemaak en nie vir die Leeus nie, en Saterdag se wedstryd sal die trots van die Leeus ten toon stel.

Die Pumas het hulle Namibiese Wêreldbeker-flank Renaldo Bothma terug. Daar is egter, nadat hulle verlede week voorlangs deur die Sharks verinneweer is, ook ʼn klompie onervare manne nadergetrek met die hoop dat hulle beter sal vaar.

Die Leeus behoort, hoewel hierdie klomp nog nie werklik in ʼn wedstryd saamgespeel het nie, redelik maklik te wen.

Die afskoptyd is 15:00

♦  In Bloemfontein sal die Blou Bulle as besliste gunstelinge op die veld draf. Die Cheetahs het weliswaar 62-12 teen die Boland gewen, maar dié vertoning was maar so effens rukkerig.

Die Vrystaat is nietemin ʼn goed-gebalanseerde span met hope slaankrag agterlangs. Hulle groot toets sal in die lynstane en by die afbreekpunte wees, terwyl die Bulle sal hoop hulle skrum toon verdere vordering nadat hulle hier en daar in die wegholsege oor die WP swaargekry het.

Die skakelvermoë van veral Arno Botha tussen voor-  en agterspelers en die twee beweeglike slotte Marvin Orie en Jason Jenkins, kan die deurslag vir die Bulls gee. RG Snyman is ook terug op die bank en in die geheel lyk dit of die Bulle net daardie rapsie meer skietgoed het.

Die afskoptyd is 17:10

Saterdag se spanne –

Goue Leeus:
 15 Sylvian Mahuza, 14 Koch Marx, 13 Stokkies Hanekom, 12 Howard Mnisi (kapt.), 11 Anthony Volmink, 10 Jaco van der Walt, 9 Ross Cronjé (kapt.), 8 Ruan Ackermann, 7 Cyle Brink, 6 Steph de Wit, 5 Lourens Erasmus, 4 Martin Muller, 3 Jacques v Rooyen, 2 Akker van der Merwe, 1 Corné Fourie. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Justin Ackerman, 18 Luvuyiso Lusaseni, 19 Victor Sekekete, 20 Dillon Smit, 21 Marnitz Boshoff, 22 Jacques Nel.
Pumas: 15 Justin van Staden, 14 Jean-Paul Lewis, 13 Hennie Skorbinski, 12 Marlou van Niekerk, 11 Marcello Sampson, 10 Francois Brummer, 9 Reynier van Rooyen, 8 Renaldo Bothma, 7 Nardus van der Walt, 6 Marnus Schoeman, 5 Hugo Kloppers (kapt.), 4 Wiehan Hay, 3 Louis Albertse, 2 Francois du Toit, 1 Kwezi Mona. Bank: 16 Herne Frank, 17 De-Jay Terblanche, 18 Jannie Stander, 19 Carel Greef, 20 Emile Temperman, 21 Deon Helberg, 22 Devon Williams.

Vrystaat Cheetahs: 15 Clayton Blommetjies, 14 Ryno Benjamin, 13 Francois Venter (kapt.), 12 William Small-Smith, 11 Raymond Rhule, 10 Fred Zeilinga, 9 Tian Meyer, 8 Niell Jordaan, 7 Uzair Cassiem, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Carl Wegner, 3 Tom Botha, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Ox Nche. Bank: 16 Jacques Du Toit, 17 Charles Marais, 18 Justin Basson, 19 Henco Venter, 20 Shaun Venter, 21 Niel Marais, 22 Maphutha Dolo.
Blou Bulle: 15 Ulrich Beyers, 14 Bjorn Basson, 13 Dan Kriel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Piet van Zyl, 8 Arno Botha (kapt.), 7 Jannes Kirsten, 6 Ruan Steenkamp, 5 Marvin Orie, 4 Jason Jenkins, 3 Entienne Swanepoel, 2 Jaco Visagie, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Edgar Marutlulle, 17 Martin Dreyer, 18 Rudolph Snyman, 19 Hanro Liebenberg, 20 André Warner, 21 Joshua Stander, 22 Duncan Matthews.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.