Leeus se Vaal-‘verrassing’ boemerang toe

Fran Cotton - wou sy span verras. (Foto: The Telegraph)

Fran Cotton – wou sy span verras. (Foto: The Telegraph)

Vir enige rugbytoerspan om susksesvol te wees, moet die span nie net op die veld nie, maar ook van die veld af tevrede gehou word.

Dis hoekom so belangrik is dat hedendaagse spanne se verblyf, reisreëlings, oefengeriewe, mediese fasiliteite, lughawens, stadions en onstpanningsgeriewe behoorlik gefynkam word voordat `n span toer.

Die vier afrigters van die Britse en Ierse Leeus-toerspan is nou  saam met ander bestuurslede in Nieu-Seeland op `n verkenningsbesoek vir die Leeus se toer in Junie en Julie.

Hulle sal hul huiswerk behoorlik doen, anders as in die verlede toe daar staatgemaak is op die tuisunies wat die meeste van die reëlings getref het.

Dit het my terugdink aan vorige Leeus-toerspanne wat deur Suid-Afrika getoer het.

Die Engels stut Fran Cotton was in 1974 en 1980 saam met die Leeus op toer en hy was 1997 bestuurder van  die toerspan.

Die Leeus van 1974 het skoonskip gemaak en die reeks teen die Bokke met 3-0 gewen nadat die vierde toets op Ellispark gelykop geëindig het.

Die span het `n paar dae in `n hotel langs die Vaalrivier uitgespan en volgens Cotton was dit net die regte doepa vir spangees en vir die spelers om hul batterye te laai.

Onwelriekend en onsmaaklik

Cotton wou die span van 1997 op `n soortgelyke besoek verras, veral omdat die span die Dinsdag voor die derde en laaste toets teen Noord-Vrystaat in Welkom gespeel het, en die busrit na die Goudvelde net `n uur of twee sou duur.

Maar die winterweer het nie saamgespeel nie, dit was yskoud en die wind het gewaai, wat veroorsaak het dat daar `n onwelriekende geurtjie van die nywerhede in die Vaaldriehoek oor die hotel en rivier gehang het. Die verblyf was ook maar so-so, daar kon nie geswem word nie en van bootritte op die Vaalrivier was daar nie sprake nie. Boonop was die gholfbaan die betrokke Maandagoggend gesluit.

Die kragmeting met die Noord-Vrystaters was ook bra onsmaaklik en beskuldigings het oor en weer gewaai.

Cotton, `n man wat nooit op sy mond geval was nie, was vir ééns bra stil, want sy verrassingsbesoek het geboemerang.

Ek weet darem nie of dit in 2017 weer sal gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Ons was eenkeer in Welkom vir ‘n wedstryd teen N-Vrystaat en die betrokke hotel het nie water gehad nie. Om ‘n lang storie kort te maak kon die hotel nie die probleem oplos nie en ek was later maar self in gesprek met die Munisipaliteit ! Later die dag moes ek my hotel telefoon van die mikkie afhaal want die omliggende besighede het ook begin kla en die munisipaliteit het hulle na my begin verwys ! Toe verloor ons nog die wedstryd ook. Groetnis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.