Leeus waarsku All Blacks met indrukwekkende sege

Tadhg Furlong, stut van die Leeus, was indrukwekkend in die vaste los en het ook baie goed geskrum (Foto: Twitter @lionsofficial)

Dit was ʼn goeie Saterdag vir spanne van die Noorde waarvan die pak wat die Britse en Ierse Leeus die Maori All Blacks toegedien het, die indrukwekkendste was.

Skotland het die Wallabies in Sydney met 24-19 geklop nadat hulle met rustyd 17-12 voor was. Die onsekere tydperk in die Wallabies se rugby is duidelik nog nie verby nie.

Dit was Skotland se eerste sege nóg in Sydney.

♦  Ierland het ondanks verswakte span met 50-22 in Shizuoka teen Japan baljaar. Daarmee het die Iere hul diepte, ondanks ʼn klomp beserings en hulle heel voorste spelers op toer saam met die Leeus, ondubbelsinnig herbevestig.

♦  Maar dit was in Rotorua dat Britse en Ierse rugby hul ongetwyfelde hoogtepunt van die naweek  – en ook die Leeus se toer – bereik het toe die Leeus vanuit die staanspoor die pas teen die Maori aangegee het.

Hulle het met die oorwinning van 32-10 uiteindelik die waarskuwing gerig dat die All Blacks nie sommer moet aanvaar hulle het reeds die drietoets-reeks, wat volgende week afskop, gewen nie.

Die Leeus het voorlangs heeltemal oorheers. Hulle skrums het die eerste keer op die toer oortuig, en hulle spel in die los en by die afbreekpunte was uitstekend.

Die Maori is weinig beweegruimte gegun en moes hoofsaaklik keer omdat hulle besit tot net 32 persent beperk is. Hulle is gedwing om 175 duikslae uit te voer waarvan 21 onsuksesvol was. Die Maori het net 47 losskrums teenoor die Leeus se 105 gewen, en onder die druk het hulle 15 strafskoppe afgestaan teen slegs vier deur die uiters gedissiplineerde toerspan.

Statistiek is dikwels misleidend, maar meer as 350 meters veld wat met hardloopwerk gewen is teenoor 178 vertel ook ʼn storie.

Dit was nie sommer ʼn doellose gehardloop deur enige van die twee spanne nie. Die opwindende agterlyn van die Maori het min en ook swak besit gekry en was meer as 30 persent van die wedstryd in hul eie helfte vasgepen, en die Leeus het met doelgerigte eerder as ʼn losbandige gehardloop hulle aanvalle geloods.

Hulle was indrukwekkend, met die skakelpaar van Johnny Sexton en Connor Murray wat die spel beheer en goed afgewissel het.

Aanstaande naweek se toets gaan ʼn riller wees – en die All Blacks sal van nou af met ander oë na die Leeus kyk wat voor hierdie wedstryd twee uit vier keer verloor het.

Puntemakers –

Maori All Blacks 10 (10): Drie: Liam Messam. Doelskop: Damian McKenzie. Strafdoel: McKenzie.
Britse en Ierse Leeus (12) 32: Drieë: Strafdrie, Maro Itoje. Doelskop: Leigh Halfpenny. Strafdoele: Leigh Halfpenny 6.

Tadhg Furlong, stut van die Leeus, was indrukwekkend in die vaste los en het ook baie goed geskrum (Foto: Twitter @lionsofficial)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Dit is jammer dat die Maori AllBlacks nie ‘n wedstryd kon gespeel het voor die kragmeting nie.
Hulle was duidelik nie opgewasse teen die toerspan samespel en pak voorspelers nie.

As dit egter die besoekers se toetsspan was gaan hul mi swaar leef teen die All Blacks.

Tc ·

Niks sal my meer satisfaksie gee,dat die Britse Leeus die reeks wen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.