Leeus wil sterker teen Streeptruie vertoon

Willem Alberts op die aanval vir die Leeus. Foto: Twitter.

Die Leeus het die afgelope naweek hul openingswedstryd van die Curriebeker-reeks teen die Pumas in Nelspruit verloor.

Genadiglik kon die lykskouing van hierdie wedstryd nie te lank duur nie en die Johannesburgers kry nou môre die geleentheid om hul toernooi teen die Westelike Provinsie – die span wat die Blou Bulle op Loftus Versfeld getem het – op koers te kry.

Slegte nuus is dat die dyspierbesering wat Willem Alberts in die Laeveld opgedoen het, beteken dat die 37-jarige strydros se Curriebekerseisoen iets van die verlede is.

Die sterk losvoorspeler, wat die Springbokke in 43 toetse verteenwoordig het, se afwesigheid moet ’n gevoelige slag vir die Johannesburgers wees – veral met die oog op hul wedstryd teen Alun Wyn Jones se Britse en Ierse Leeus.

Francke Horn sal môre saam met Vincent Tshituka en Sibusiso Sangweni die Leeus se lostrio wees.

Daarteenoor het die WP – wat weliswaar met ’n verswakte Bloubulspan afgereken het – ook ’n paar veranderings vir môre se wedstryd aangebring.

Tim Swiel sal onder meer op heelagter diens doen, terwyl Godlen Masimla die nommernegetrui in Paul de Wet se plek sal dra.

Die wedstryd begin môre (Woensdag) om 19:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Leeus: EW Viljoen (heelagter), Jamba Ulengo (regtervleuel), Manuel Rass (buitesenter), Dan Kriel (binnesenter), Rabz Maxwane (linkervleuel), Fred Zeilinga (losskakel), Dillon Smit (skrumskakel), Francke Horn (agtsteman en kaptein), Vincent Tshituka (flank), Sibusiso Sangweni (flank), Reinhard Nothnagel (slot), Ruben Schoeman (slot), Ruan Dreyer (stut), PJ Botha (haker) en Nathan McBeth (stut). Plaasvervangers: Jaco Visagie, Banele Mthenjane, Carlu Sadie, Ruhan Straeuli, Emmanuel Tshituka, Morné van den Berg, Aidynn Cupido en Duncan Matthews.

Westelike Provinsie: Tim Swiel (heelagter), Sergeal Petersen (regtervleuel), Rikus Pretorius (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Seabelo Senatla (linkervleuel), Abner van Reenen (losskakel), Godlen Masimla (skrumskakel), Juarno Augustus (agtsteman), Evan Roos (flank), Marcel Theunissen (flank), David Meihuizen (slot), Ernst van Rhyn (slot en kaptein), Neethling Fouché (stut), JJ Kotze (haker) en Ali Vermaak (stut). Plaasvervangers: Jason Alexander, Leon Lyons, Sazi Sandi, Justin Basson, De Wet Marais, Johan du Toit, Paul de Wet, Cornel Smit, Lee-Marvin Mazibuko, Hacjivah Dayimani en Niel Otto.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.