Leeustoer: CJ, Sonny Bill Woensdag in die kollig

CJ Stander maak Woensdag sy Leeus-buiging teen die Blues (Foto: Twitter @munsterrugby)

Die Britse en Ierse Leeus gaan Woensdag in Auckland onherkenbaar wees wanneer hulle vir hul tweede kleedrepetisie in Nieu-Seeland, hierdie keer teen die Blues, uitdraf.

Warren Gatland se span wat onoortuigend met 13-7 teen die Nieu-Seelandse Provinsiale Baabaas gewen het, toon 15 veranderinge wat aan die beginspan aangebring is.

CJ Stander, die voormalige losvoorspeler van die Bulls wat nou vir Munster speel, maak sy Leeu-buiging op agsteman en word sodoende die eerste Suid-Afrikaans gebore speler sedert die stut Matt Stevens (2005 en 2013) en Brad Barritt (2013) wat dié geskiedenisryke trui oor sy kop trek.

Stander is sover vasgestel kon word die eerste Afrikaanssprekende Leeu.

Die Walliese haker Ken Owens sal die span Woensdag aanvoer.

Hoewel die Britse en Ierse Leeus geen tekort aan ervaring het nie, spog die Blues met agt All Blacks in hul geledere. Die bekendste van hulle: Sonny Bill Williams.

Williams het ná sy terugkeer van die besering wat hy vir die All Blacks by die Olimpiese Spele opgedoen het, weer las van ʼn kniebesering gehad. Maar hy het sy fiksheidstoetse geslaag en sal oorkant Ierland se binnesenter Robbie Henshaw stelling inneem.

As Williams sy stempel kan afdruk, is hy so te sê daarvan verseker om die All Blacks se nommer 12-trui in die toetsreeks te dra.

Wat die Britse en Ierse Leeus betref is die druk reeds besig om Gatland teen die mure uit te dryf. Gatland het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie met ʼn rits swetswoorde aan sy frustrasies uiting gegee. Niks behalwe ʼn oortuigende sege sal dié Hamilton-gebore afrigter tevrede stel nie.

Óf die kritiese Nieu-Seelandse media en die uitgesproke Britse skrywers se monde snoer nie.

Die Blues is wel die laaste van die vyf Kiwispanne op die Superreeks se punteleer, maar is nie te versmaai nie – veral nie teen ʼn span wat mekaar nouliks ken en (as toerspan) klaarblyklik gesukkel het met die pas waarteen die amperse amateurspan, die Plattelandse Barbarians, hulle in die eerste toerwedstryd onder druk geplaas het.

Die afskop is 09:35 SA-tyd.

Spanne –

Britse en Ierse Leeus:

15 Leigh Halfpenny (Wallis), 14 Jack Nowell (Engeland), 13 Jared Payne (Ierland), 12 Robbie Henshaw (Ierland), 11 Elliot Daly (Engeland), 10 Dan Biggar (Wallis), 9 Rhys Webb (Wallis), 8 CJ Stander (Ierland), 7 Justin Tipuric (Wallis), 6 James Haskell (Engeland), 5 Courtney Lawes (Engeland), 4 Maro Itoje (Engeland), 3 Dan Cole (Engeland), 2 Ken Owens (Wallis, kapt.), 1 Jack McGrath (Ierland). Bank: 16 Rory Best (Ierland), 17 Joe Marler (Engeland), 18 Kyle Sinckler (Engeland), 19 Iain Henderson (Ierland), 20 Peter O’Mahony (Ierland), 21 Greig Laidlaw (Skotland), 22 Johnny Sexton (Ierland), 23 Liam Williams (Wallis).

Blues:

15 Michael Collins, 14 Matt Duffie, 13 George Moala, 12 Sonny Bill Williams/TJ Faiane, 11 Rieko Ioane, 10 Stephen Perofeta, 9 Augustine Pulu, 8 Steven Luatua, 7 Blake Gibson, 6 Akira Ioane, 5 Scott Scrafton, 4 Gerard Cowley-Tuioti, 3 Charlie Faumuina, 2 James Parsons (kapt.), 1 Ofa Tu’ungafasi. Bank: 16 Hame Faiva, 17 Alex Hodgman, 18 Sione Mafileo, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Kara Pryor, 21 Sam Nock, 22 Ihaia West, 23 TJ Faiane.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.